Nuus 16:00
BULLETIN 29 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die terugkoopkoers word met 25 basispunte verlaag
# Die kabinet vier die eerste herdening van die regering van nasionale eenheid
# En die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die mylpaal-vonnisoplegging in die Joslin Smith-saak
# Daar is ‘n bietjie goeie nuus vir skuld-oorlaaide Suid-Afrikaners. Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het ‘n verlaging van 25 basispunte in die terugkoopkoers aangekondig tot 7,25-persent. Dit beteken die prima-uitleenkoers verlaag tot 10,75-persent.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet is dankbaar om die regering van nasionale eenheid se eerste herdenking te vier as ‘n belangrike mylpaal in die demokrasie van Suid-Afrika. Sy sê die koalisie van tien partye, wat slegs 14 dae ná die verkiesing gevorm is, toon ‘n sterk verbintenis tot eenheid, bestendigheid en inklusiewe regering. Ntshavheni sê ondanks politieke verskille, bly die RNE gefokus op nasionale eenheid en die bou van ‘n land wat meer welvarend en regverdig is:
# Die DA het die ANC se voorgestelde Transformasiefonds van 100-miljard-rand veroordeel en dit ‘n plunderfonds genoem. Die DA se woordvoerder oor Handel en Nywerheid, Toby Chance, sê die fonds bevoordeel ‘n paar uitgesoektes en ondermyn ware hervorming. Chance vra gehalte-onderwys, minder burokrasie en sterker uitvoermarkte om entrepreneurs te bemagtig, werk te skep en armoede te beveg. Hy meen die voorgestelde fonds sal nie werklik enigiets vir Suid-Afrikaners oplewer nie:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die lewenslange vonnisse vir Kelly Smith, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn in die saak van Smith se jong dogter, Joslin, wat in Februarie verlede jaar aan die Kaapse Weskus verdwyn het. Die NVG se woordvoerder, Eric Ntabazalila, sê die beslissing van die Wes-Kaapse Hooggeregshof is ‘n ongewone, geskiedkundige skuldigbevinding aan mensehandeling vir uitbuiting. Hy sê die vonnis, wat in Kinderbeskermingsweek opgelê is, stuur ‘n kragtige boodskap om kinders se regte en beskerming voorop te stel:
# ‘n Afgetrede Russiese bevelvoerder wat die lugaanvalle op die Oekraïense hawestad Mariupol gelei het, is dood in ‘n ontploffing in Stavropol in die suide van sy land. Die 34-jarige Zaur Gurtsiev het verskeie medaljes ontvang vir sy deelname aan aanvalle op Mariupol en Avdiivka. Owerhede het nie gesê wat die ontploffing veroorsaak het nie, maar sluit nie Oekraïne se aanspreeklikheid uit nie. ‘n Reeks hoëprofiel Russiese soldate is in Rusland dood sedert die Kremlin sy volskaalse militêre aanslag op Oekraïne in Februarie 2022 begin het.
# Krieket: ‘n Plek in die eindstryd van die Indiese Premierliga is vandag op die spel in die eerste kwalifiseerder tussen Punjab Kings en Royal Challengers Bengaluru in New Chandigarh. Die twee spanne, wat eerste en tweede op die punteleer geëindig het, veg albei vir hul eerste titel in die kompetisie. Vandag se wenner gaan deur na Dinsdag se eindstryd, terwyl die verloorder steeds ‘n kans het in Sondag se tweede kwalifiseerder teen die wenner van môre se elimineerder tussen Gujarat Titans en Mumbai Indians.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-600-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-310-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….