Nuus 15:00
BULLETIN 29 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet steun die nasionale begroting en noem dit pro-arm
# Britse bekendes vra hulle regering om wapenverkope aan Israel te staak
# En Israel kondig nog 22 nedersettings in die besette Wesoewer aan
# Die kabinet onderskryf die hersiene nasionale begroting en beskryf dit as ‘n pro-arm-begroting wat voorrang gee aan die behoeftes van die kwesbaarste mense. ‘n Infrastruktuurbelegging van ‘n duisend-miljard-rand oor die volgende drie jaar is uitgelig, met verwysing na die begroting wat fiskale dissipline en ekonomiese groei balanseer. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie gesê 61-sent uit elke rand in rentevrye besteding sal toegeken word aan gratis basiese dienste soos elektrisiteit, water, onderwys, gesondheidsorg, behuising en maatskaplike toelaes:
# Absa het sy groei-vooruitsig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie vir 2025 met die helfte verminder en voorspel nog twee rentekoersverlagings vir later vanjaar. Die bank sê hy verwag dat die ekonomie vanjaar met slegs een persent sal groei, wat laer is as ‘n vorige skatting van 2,1-persent. Hy voorspel ook dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank die terugkoopkoers met 25 basispunte sal verlaag wanneer hy later vandag sy rentekoersbesluit bekend maak . ‘n Ekonoom van Absa, Andiswa Nondudule, sê dit behoort die koers tot sewe-persent te verlaag.
# Die popster Dua Lipa het saam met sowat 300 Britse bekendes ‘n ope brief onderteken waarin die regering versoek word om wapenverkope aan Israel te staak. Dit volg op soortgelyke pleidooie van prokureurs en skrywers. Akteurs, musikante, aktiviste en ander openbare figure vra premier Keir Starmer in die brief om Brittanje se medepligtigheid te beëindig aan wat hulle die gruwels in Gaza noem. Ander ondertekenaars sluit in die akteurs Benedict Cumberbatch, Tilda Swinton en Riz Ahmed, en die musikante Paloma Faith, Annie Lennox en Massive Attack.
Israel het intussen die skepping van 22 nuwe nedersettings aan die besette Wesoewer aangekondig, wat die verhouding met die internasionale gemeenskap verder onder druk kan plaas. Die Verenigde Nasies veroordeel Israeliese nedersettings aan die Wesoewer gereeld as onwettig en sê dit word gesien as een van die grootste hindernisse vir blywende vrede tussen Israeli’s en Palestyne. Die minister van Finansies, Bezalel Smotrich, wat self ‘n setlaar is, sê nuwe gemeenskappe sal in Judea en Samaria gevestig word. Dit sal vernuwing bring aan nedersettings in die noorde van Samaria en Israel se oostelike spilpunt versterk.
# Sokker: Chelsea se afrigter, Enzo Maresca sê hy hoop hul oorwinning in die UEFA-Konferensieliga kan die begin wees van ‘n nuwe era van sukses. Die span het agtergeloop voordat hulle Real Betis 4-1 geklop het in Breslau, Pole, en sy eerste trofee sedert 2022 verower het. Chelsea is ook die eerste span wat al drie Europa se groot trofees wen. Maresca sê hy wil ‘n wenners-ingesteldheid by sy jong span vestig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-912-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-296-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….