Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 29 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Hazel Ntuli word later vanjaar een van die Universiteit van Pretoria se jongste gegradueerdes. Sy het as 17-jarige ‘n graad in Aktuariële Wetenskap voltooi. Hazel se akademiese talente was vroeg reeds duidelik en sy is in 2022 universiteit toe nadat sy haar laer- en hoërskoolloopbane vinnig voltooi het. Hazel, wat nou met ʼn honneursgraad besig is, sê dit was ʼn moeilike maar bevredigende leerkurwe om haar stem in onbekende akademiese ruimtes te vind:
# ‘n Maatskaplike entrepreneur van Kenia, Kennedy Odede, en ‘n Kanadese inheemse maatskaplike werker, Brenda Reynolds, is die wenners van 2025 se Nelson Rolihlahla Mandela-prys. Die Verenigde Nasies het die prys in 2014 ingestel en ken dit elke vyf jaar toe aan twee mense wie se werk Mandela se nalatenskap van leierskap, nederigheid, diens en eenheid oor grense heen weerspieël. Die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, sê Odede en Reynolds verpersoonlik die gees van eenheid en potensiaal. Hulle sal hulle pryse ontvang op Internasionale Mandela-dag op 18 Julie.
# Die eerste Kultura-fees maak op 22 Junie sy Suid-Afrikaanse buiging met Symphony and Song in die teater van die Hoërskool Curro Durbanville in Kaapstad. Die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes en die sopraan Zanne Stapelberg tree in die gesinsgerigte konsert op en sal klassieke werke, opera en liedere uit musiekteaterstukke aanbied. Die geleentheid vier Suid-Afrikaanse musiektalent en wys hoe simfoniese klanke mense kan saambind. Van die hoogtepunte is Rimski-Korsakof se Capriccio Espagnol, Arthur Feder se Tango, en ‘n verskeidenheid uit Kiss of the Spider Woman.
# Die Dan en Rose Qeqe-stigting het gholf by vier townshipskole in Gqeberha bekendgestel deur gholfstokke en -balle te skenk. Die projek wil verskeidenheid in skolesport bevorder deur jong talent te ontwikkel en die idee van gholf as elite-sport verander. Die stigting wil toegang skep in arm gemeenskappe en so insluiting en groei in gholf op voetsoolvlak bevorder. Hulle glo as jong kinders aan die sport blootgestel word, maak dit beurse en toekomstige loopbane moontlik.
# En ten slotte: Kaapstad is negende geplaas in Time Out se wêreldwye opname van stede met die beste toegang tot die natuur en groen ruimtes. Die metro is saam met Abu Dhabi, bekend vir sy 200 parke en strande, en Chicago wat met meer as 600 parke spog en bekend is vir sy toewyding aan groen stedelike ruimtes. Die opname, gegrond op meer as 18-duisend-500 stemme, beklemtoon Kaapstad se stadslewe en buitelug-skoonheid. Inwoners en besoekers sê hulle geniet plekke soos die Kompanjiestuine en Tafelberg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….