Nuus 14:00
BULLETIN 29 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet loof die herstel in betrekkinge tussen Suid-Afrika en Amerika na Ramaphosa se besoek aan Washington
# Lewenslange tronkstraf vir die drie veroordeeldes in die saak van Joslin Smith
# En rugby: Etzebeth sê die Haaie verwag ‘n moeilike wedstryd teen Munster ondanks hulle tuisveld-voordeel
# Die kabinet verwelkom ‘n nuwe begin in betrekkinge tussen Suid-Afrika en Amerika na president Cyril Ramaphosa se besoek aan Washington. Die kabinet sê die besoek het bilaterale bande versterk en nuwe bane geopen vir samewerking in handel, belegging, klimaatsverandering en wêreldvrede. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aan die media gesê die besoek het die weg gebaan vir hernude strategiese samewerking, met vordering wat gemaak is met ‘n nuwe handelsooreenkoms en verbintenisse om samewerking binne die G20-raamwerk te versterk:
# Absa het sy groei-vooruitsig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie vir 2025 met die helfte verminder en voorspel nog twee rentekoersverlagings vir later vanjaar. Die bank sê hy verwag dat die ekonomie vanjaar met slegs een persent sal groei, wat laer is as ‘n vorige skatting van 2,1-persent. Hy voorspel ook dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank die terugkoopkoers met 25 basispunte sal verlaag wanneer hy later vandag sy rentekoersbesluit bekend maak . ‘n Ekonoom van Absa, Andiswa Nondudule, sê dit behoort die koers tot sewe-persent te verlaag.
# Kelly Smith, Jacquen Appollis, en Steveno van Rhyn is elk tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verdwyning van Smith se jong dogter, Joslin, aan die Kaapse Weskus in Februarie verlede jaar. Die verhoor het vanoggend geëindig in die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat in Saldanhabaai sit. Regter Nathan Erasmus het kennis geneem van stelsel-mislukkings in Smith se ondersteuning, maar beklemtoon geregtigheid moet die kwesbares beskerm. Hy sê ook dwelmgebruik is geen verskoning vir sulke misdade nie:
# Rugby: Hoewel die Haaie die Europese Uitdaagbeker gewen het, het hulle nie veel welslae behaal in die Verenigde Rugbykampioenskap nie. Hulle het verlede seisoen in die 14de plek op die punteleer afgesluit. Die Durbanse span berei voor vir Saterdag se kwarteindstryd teen die Ierse span Munster op Kingspark in Durban. Die Haaie se kaptein, die Springbok-ster Eben Etzebeth, sê hulle verwag ‘n moeilike wedstryd ondanks hulle tuisveld-voordeel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-626-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-296-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Maatskaplike entrepreneur van Kenia, Kennedy Odede, en ‘n Kanadese inheemse maatskaplike werker, Brenda Reynolds, is die wenners van 2025 se Nelson Rolihlahla Mandela-prys. Die Verenigde Nasies het die prys in 2014 ingestel en ken dit elke vyf jaar toe aan twee mense wie se werk Mandela se nalatenskap van leierskap, nederigheid, diens en eenheid oor grense heen weerspieël. Die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, sê Odede en Reynolds verpersoonlik die gees van eenheid en potensiaal. Hulle sal hulle pryse ontvang op Internasionale Mandela-dag op 18 Julie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….