Nuus 12:00
BULLETIN 29 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê hy het Starlink se onregmatige verbindings in Suid-Afrika ontbloot
# AfriForum beskuldig Ramaphosa dat hy die VN se Volksmoordkonvensie oortree deur ‘Kill the Boer’ te beskerm
# En die verkoop van bruinbeervleis word in Slowakye goedgekeur
# Die MK-party sê hy sal dit nie duld dat buitelandse winsjagters of hul plaaslike bemagtigers Suid-Afrika se wetsraamwerk ondermyn nie. Die kommunikasiereguleerder, Okosa, het ‘n ondersoek van stapel gestuur na bewerings dat Elon Musk se onderneming, Starlink Internet-satellietdiens, onwettig bedryf word in die land. MK sê hy het ontdek Starlink se onwettige verbindings-bedrywighede word deur ‘n onwettige instelling genaamd “ICASAsePUSH” uitgevoer. Die party beweer dit is deur Afrikanerboere in die Noord-Kaap geregistreer, toe gederegistreer en in Mosambiek opgerig.
# AfriForum sê president Cyril Ramaphosa oortree die Verenigde Nasies se Volksmoordkonvensie deur nie “Kill the Boer” te veroordeel nie. Die organisasie voer aan die regering se gebrek aan optrede teen die leier van die EFF, Julius Malema, oor die gebruik van die lied, is dieselfde gebrek aan optrede wat Suid-Afrika in sy volksmoordsaak teen Israel gekritiseer het. Kallie Kriel van AfriForum glo die slagspreuk versprei vrees en blaas geweld aan, veral te midde van voortdurende plaasaanvalle:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die vredes- en sekerheidsraamwerk moet dringend in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo ingestel word. Hy het die 12de hoëvlakvergadering van die streeksoorsig-meganisme vir die Vrede-, Sekerheids- en Samewerkingsraamwerk in Kampala, Uganda, bygewoon. Lamola sê die beraad het ook die huidige dodelike konflik in Soedan en die kommerwekkende politieke situasie in Suid-Soedan bespreek en vra dat vyandelikhede dadelik gestaak word:
# Gholf: Die Ryderbeker-kompetisie van 2027 vind vanaf 17 September op Adare Manor in Ierland plaas, wanneer die spanbyeenkoms sy eeufees vier. Dit sal die tweede keer wees dat die land die tweejaarlikse kompetisie aanbied nadat Europa Amerika in 2006 op die K-klub in Kildare geklop het. Vanjaar se Ryderbekerkompetisie vind in New York plaas, ook in September, waar die verdedigende kampioen, Europa, weer deur die Engelsman Luke Donald aangevoer sal word. Die kapteins vir 2027 is nog nie bevestig nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-64-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-284-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-20-sent per vat.
# En ten slotte: Die vleis van bruinbere, ‘n beskermde spesie in die Europese Unie, mag dalk binnekort in Slowakye verkoop word nadat die populistiese regering nuwe planne goedgekeur het. Die kabinet het in April ‘n plan goedgekeur om sowat ‘n kwart van die land se een-duisend-300 bruinbere te skiet weens noodlottige voorvalle. Bewaringsbewustes, opposisie-politici, asook die Europese Parlement het dit skerp gekritiseer. Die Slowaakse regering gaan egter voort met die plan en het hierdie week aangekondig die vleis van bere wat uitgeskiet word sal verkoop word om vermorsing te voorkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….