Nuus 11:00
BULLETIN 29 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Okasa slaan toe op die vermeende onwettige gebruik van Starlink in Suid-Afrika
# AfriForum beskuldig Ramaphosa dat hy die VN se Volksmoordkonvensie oortree deur ‘Kill the Boer’ te beskerm
# En die Withuis kritiseer die hof-uitspraak wat ’n stokkie steek voor Trump se wêreldwye tariefverhogings
# Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika het ‘n ondersoek begin na bewerings dat Elon Musk se Starlink-internet-satellietdiens onwettig bedryf word in die land. Die regering het verslapte regulasies oor swart bemagtiging vir satelietdiensmaatskappye se lisensievereistes in die Staatskoerant gepubliseer. Die voorgestelde beleidsriglyn baan die weg vir Starlink om in die land bedryf te word. Okasa se voorsitter, Mothibi Ramusi, sê as die ondersoek enige verbreking van die regulatoriese en wetgewende raamwerke onthul, sal hulle optree met die magte tot hulle beskikking.
# AfriForum sê president Cyril Ramaphosa oortree die Verenigde Nasies se Volksmoordkonvensie deur nie “Kill the Boer” te veroordeel nie. Die organisasie voer aan die regering se gebrek aan optrede teen die leier van die EFF, Julius Malema, oor die gebruik van die lied, is dieselfde gebrek aan optrede wat Suid-Afrika in sy volksmoordsaak teen Israel gekritiseer het. Kallie Kriel van AfriForum glo die slagspreuk versprei vrees en blaas geweld aan, veral te midde van voortdurende plaasaanvalle:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê sy departement se verskerpte pogings om bek-en-klouseer te beheer en uit te wis, is werp vrugte af. Die siektebestuur in Limpopo en die Oos-Kaap word binnekort opgehef en ʼn dringende bestelling is geplaas vir noodsaaklike entstof ter waarde van 72-miljoen-rand. Die ministerie se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê daar is in KwaZulu-Natal en Gauteng steeds tekens dat die virus versprei:
# Die Withuis het gereageer op ‘n hofuitspraak wat president Donald Trump se omvattende wêreldwye tariewe keer en sê onverkose regters kan nie ‘n nasionale noodsituasie behoorlik hanteer nie. Die Internasionale Handelshof in Manhattan het beslis die Internasionale Noodwet op Ekonomiese Magte van 1977, waarop Trump hom beroep het, verleen nie aan die president eensydige mag om tariewe op byna elke land in te stel nie. Die Withuis se woordvoerder, Kush Desai, sê die administrasie sal al sy uitvoerende magte inspan om ‘n oplossing vir die tariefkrisis te vind.
# Gholf: Die Ryderbeker-kompetisie van 2027 vind vanaf 17 September op Adare Manor in Ierland plaas, wanneer die spanbyeenkoms sy eeufees vier. Dit sal die tweede keer wees dat die land die tweejaarlikse kompetisie aanbied nadat Europa Amerika in 2006 op die K-klub in Kildare geklop het. Vanjaar se Ryderbekerkompetisie vind in New York plaas, ook in September, waar die verdedigende kampioen, Europa, weer deur die Engelsman Luke Donald aangevoer sal word. Die kapteins vir 2027 is nog nie bevestig nie.
# # En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-924-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-280-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….