Nuus 08:00
BULLETIN 29 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Amerikaanse handelshof keer dat Trump omvattende globale tariewe instel
# Die Ouditeur-generaal sê net 16% munisipaliteite word vertrou om openbare fondse doeltreffend te bestuur
# En sokker: Banyana Banyana is teleurgesteld met sy vertoning teen Botswana ondanks oorwinning
# Die Amerikaanse Internasionale Handelshof het bevind president Donald Trump het sy gesag oorskry deur omvattende, globale tariewe op invoere in te stel. Die paneel van drie regters in New York sê die Wet op Internasionale Ekonomiese Nood-magte van 1977 wat Trump aanhaal om die tariewe te regverdig, gee hom nie mag om dit in te stel nie. Die onafhanklike Liberty Justice Centre het die saak aanhangig gemaak. Die hof het ten gunste van ‘n permanente verbod beslis wat die globale tariewe moontlik kan keer. Die Trump-administrasie het geappelleer.
# Die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, sê die stand van finansiële en prestasiebestuur-dissiplines in plaaslike regering laat veel te wense oor. Plaaslike regering het die afgelope drie jaar 17,6-miljard-rand verloor weens vrugtelose en verkwistende besteding. Die ouditeur-generaal het bevind slegs 41 uit 257 rade het in die 2023/2024-boekjaar ʼn skoon oudit ontvang. Maluleki het aan die parlementêre komitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake gesê net 16-persent munisipaliteite kan vertrou word om openbare fondse doeltreffend te bestee:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het met regstappe teen die vakbond NEHAWU gedreig omdat hulle probeer inmeng met die departement se werwing van senior bestuurders. Die vakbond het na bewering geëis om werksadvertensies goed te keur, deel te neem aan die samstelling van kortlyste en onderhoude by te woon. Macpherson sê dit oortree die Staatsdienswet. Hy het die vakbond daarvan beskuldig dat hulle met die Parlement se portefeuljekomitee saamgesweer en probeer om ondersoeke van twyfelagtige huurooreenkomste te beïnvloed.
# Die GOOD-party het die wysigings aan die Stad Kaapstad se konsepbegroting verwelkom. Anton Louw van die party sê weens openbare druk tydens die aanvanklike kommentaar-tydperk, sluit die gewysigde begroting verligting in vir sommige inwoners. Hy sê dit sluit in dat die kortingdrempel vir pensioenarisse van 22-duisend-rand tot 27-duisend-rand verhoog is, en vaste waterkoste vir eiendomme onder 25-miljoen-rand is verlaag:
# Sokker: Banyana Banyana-afrigter Desiree Ellis sê sy is teleurgesteld met hulle vertoning teen Botswana in hul eerste wedstryd van die drienasies-reeks op die Lucas Moripe-stadion in Pretoria. Doele deur Adrielle Mibe en Jermaine Seoposenwe, wat twee bygedra het, het tot Suid-Afrika se 3-2-sege teen Botswana gelei. Banyana Banyana kom Dinsdag op dieselfde stadion teen Zambië te staan. Ellis erken daar is ruimte vir verbetering voor die Vroue-Afrikanasiesbeker in Julie teen Marokko:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-201-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-270-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….