Nuus 18:00
BULLETIN 28 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Union Against Hunger hou gebrek aan leierskap en beleidsmislukkings verantwoordelik vir Suid-Afrika se voedselkrisis
# Minister Tau kondig Sizekhaya Holdings as nuwe lotery-lisensiehouer aan
# En Namibië eis steeds vergoeding vir Duitsland se volksmoord in die land 120-jaar gelede
# Die Union Against Hunger het Suid-Afrika se toenemende hongerkrisis toegeskryf aan ‘n gebrek aan regeringsoptrede en beleidsmislukkings. ‘n Lid van die organisasie se beheerkomitee, Busiso Moyo, het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika aangevoer dat miljoene mense daagliks honger ervaar, met kinders wat wanproporsioneel geraak word. Moyo het die staat se gebrek aan leierskap gekritiseer om voedselonsekerheid teen te werk. Hy het dringende hervormings geëis, insluitend verbeterde voedselstelselbestuur, om die nasionale noodtoestand aan te pak:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het aangekondig dat die vierde nasionale lotery- en sportweddenskaplisensie toegeken is aan Sizekhaya Holdings. Dit volg nadat die onderhandelinge met die Nasionale Loterykommissie suksesvol afgehandel is. Die departement versoek ‘n regsmening om te appelleer teen ‘n onlangse uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria oor die kwessie. Die ministerie se woordvoerder, Yamkela Fanisi, hoop dat die nuwe operateur die lotery sal laat groei en ondersteuning vir behoeftige mense vergroot.
# Die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede vra alle sektore van die samelewing om te verenig in die stryd teen tienerswangerskappe, aangesien byna 30-persent van tieners al swanger was. Hierdie syfer het wel in die afgelope aantal jare afgeneem, maar bly steeds kommerwekkend hoog, veral in landelike provinsies soos Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap. Cassius Selala van die departement doen ‘n beroep op eerlike gesprekke oor seksopvoeding en verbeterde toegang tot voorbehoeding:
# Namibië se president, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het oproepe herhaal dat Duitsland vergoeding moet betaal vir sy volksmoord teen plaaslike stamme meer as 120-jaar gelede. Sy het gepraat tydens die eerste amptelike herdenking. Duisende inheemse Herero- en Nama-mense is tussen 1904 en 1908 deur Duitse soldate uit die koloniale tydperk vermoor nadat hulle teen die bewind in opstand gekom het. Dit word as die eerste volksmoord van die 20ste eeu beskou. Berlyn het ‘n verskoning aangebied, maar daar is steeds geen ooreenkoms bereik oor vergoeding in gesprekke wat in 2013 met die Duitse regering begin het nie.
# Krieket: Engeland se snelbouler, Gus Atkinson, gaan die eendagreeks teen die Wes-Indiese Eilande misloop weens ‘n dyspierbesering. Die reeks begin môre op Edgbaston. Atkinson is die tweede speler wat weens ‘n besering onttrek nadat Jofra Archer ook uit is weens ʼn beseerde duim. Die 27-jarige Atkinson is nie gekies vir die reeks van drie T20-wedstryde wat op die eendagreeks volg nie. Hy sal na verwagting wel fiks wees vir die reeks van vyf toetse teen Indië wat die 20ste van volgende maand op Headingley begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-859-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-307-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….