Nuus 15:00
BULLETIN 28 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padongelukkefonds se uitvoerende hoof word op spesiale verlof geplaas te midde van ‘n SOE-ondersoek
# Die Openbare Beskermer ondersoek tenders van 119-miljoen-rand gekoppel aan Tshwane se onderburgemeester
# En rugby: Die ervare Engelse stut Dan Cole gaan die einde van die seisoen uittree
# Die uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, is op spesiale verlof geplaas. Hy word beskuldig van betrokkenheid by ‘n omstrede huurooreenkoms ter waarde van 79-miljoen-rand vir kantore vir die fonds in Johannesburg. Die raad sê die stap is onmiddellik ingestel as ‘n voorsorgmaatreël, maar dui nie noodwendig op ‘n oortreding nie. Die Spesiale Ondersoekeenheid stel tans ondersoek in. Die Departement van Vervoer se woordvoerder, Collen Msibi, sê Phathutshedzo Lukhwareni sal as die waarnemende uitvoerende hoof waarneem.
# Die Openbare Beskermer het ‘n ondersoek van stapel gestuur na tenders van miljoene rand wat toegeken is aan ‘n onderneming wat voorheen behoort het aan Tshwane se onderburgemeester en streekvoorsitter van die ANC, Eugene Modise. News24 berig die DA het die ondersoek aangevra en beweer het dat hy steeds voordeel trek uit Triotic Protection Services, wat kontrakte van 119-miljoen-rand vanaf ANC-beheerde munisipaliteite gekry het. Modise beweer hy het sy aandele verkoop. Die Beskermer het bevestig die ondersoek fokus op moontlike wanadministrasie en magsmisbruik en is nog in ‘n vroeë stadium.
# Die DA sê die nuwe Wetsontwerp op Minerale Hulpbronne wat verlede week vir openbare kommentaar bekendgestel is, sal die reeds wankelrige saak vir buitelandse belegging in Suid-Afrikaanse mynbou beëindig. Woordvoerder James Lorimer sê dit maak voorsiening vir die vinnige omverwerping van die beginsel van “eens bemagtig, altyd bemagtig”, wat die weg baan vir die behoefte aan voortdurende inspuiting van nuwe swart bemagtigings-beleggers. Hy sê die wetsontwerp is nie behoorlik deurdink nie:
# Rugby: Engeland en Leicester Tigers se stut, Dan Cole, sê hy gaan die einde van die seisoen uittree. Die 38-jarige wat die tweede meeste toetse vir Engeland gespeel het, het sy land 118 keer verteenwoordig. Sy loopbaan sluit in vier Premierskaptitels vir Leicester, waar hy as seun gespeel het, en vir wie hy 340 wedstryde gespeel het. Hy het ook twee keer saam met die Britse en Ierse Leeus getoer. Cole sê na 20 jaar op die rugbyveld is dit tyd om sy stewels op te hang.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-806-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-311-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die vakbondfederasie Cosatu het die akteur Presley Chweneyagae geprys vir die uitwerking wat hy deur die kunste op jeugontwikkeling en gemeenskapsopheffing gehad het. Die kunstenaar is gister op 40-jarige ouderdom oorlede weens natuurlike oorsake. Cosatu se woordvoerder, Nonzuzo Dlamini, het sy nalatenskap geloof, van die Oscar-bekroonde rolprent Tsotsi tot sy rol as Cobra in The River. Sy sê Chweneyagae se werk het maatskaplike werklikhede uitgelig en baie mense geïnspireer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….