Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 28 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrikaanse boetiek-bierbrouerye het oorheers op die 2025 Afrika Bierbekerkompetisie in Kaapstad en verskeie medaljes gewen. Sowat 260 biere uit 14 lande is beoordeel. Soul Barrel Brewing het die eerste prys gewen vir die beste bier op die vasteland met sy Wild African Soul. Dit het ‘n sorghum-basis wat in samewerking met Tolokazi Beer gemaak is. Richmond Hill Brewing Company het ook uitgeblink met vyf inskrywings wat elk ‘n medalje gewen het. Die wenners is geloof vir hoe hulle Suid-Afrika se leierskap in bierbrouery gewys het.
# Reach For A Dream versoek Suid-Afrikaners om Vrydag, op Pantoffeldag, hul pantoffels te dra en ‘n plakker van twintig-rand te koop. Die veldtog ondersteun kinders met lewensbedreigende siektes en poog om hul drome ‘n werklikheid te maak. Fondse wat ingesamel word, help dus om vreugde en hoop aan jong pasiënte te bring. Die organisasie sê elke plakker is ‘n belegging in ‘n kind se droom, en versoek mense om dit vir die dromertjies te doen.
# ‘n Groep toegewyde stappers, wat die Paralimpiese atleet Mpumelelo Mhlongo insluit, het 500 kilometer deur die Kaapse berge gestap om 50-duisend-rand in te samel vir STEPS, ʼn liefdadigheidsorganisasie wat kinders met kreupelvoete ondersteun. Hul pogings sal 20 kinders se behandeling dek en hulle help om met vertroue te stap. Mhlongo, wat besig is met sy doktorsgraad in Chemiese Ingenieurswese, ondersteun die saak om insluiting van gestremdes te bevorder. Sy deelname beklemtoon die belangrikheid van gelyke geleenthede vir kinders met fisiese gestremdhede.
# ‘n Groep van 26 dramastudente van die Upstage Concepts-ateljee vir uitvoerende kunste in Johannesburg het ‘n 12-uur lange opvoering aangebied en meer as 75-duisend-rand vir die Rivers-stigting ingesamel. Vriende, familie en afrigters het toegekyk terwyl die studente deur die nag sing, dans en optree ter ondersteuning van kwesbare gemeenskappe. Die fondse en geskenkte goedere sal die stigting se uitreikprogramme in onderwys, voedsel en gesondheidsorg ondersteun. Die organiseerders hoop om die opvoeringsmarathon ‘n jaarlikse tradisie te maak.
# En ten slotte: Arabella Stanton, Dominic McLaughlin en Alastair Stout gaan die rolle van Hermione, Harry en Ron vertolk in HBO se komende Harry Potter TV-reeks. Meer as 30-duisend akteurs het sedert verlede jaar oudisies afgelê. Die drie sluit aan by ʼn rolverdeling wat akteurs soos John Lithgow as Hogwarts se hoof, Albus Dumbledore, en Janet McTeer as Minerva McGonagall insluit. Daar sal na verwagting sewe reekse wees en elke seisoen word verwerk volgens een van JK Rowling se Harry Potter-boeke.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….