Nuus 14:00
BULLETIN 28 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer ondersoek tenders van 119-miljoen-rand gekoppel aan Tshwane se onderburgemeester
# Amerika oorweeg verpligte sosiale media-ondersoeke vir buitelandse studente se visumaansoeke
# En Namibië hou sy eerste nasionale herdenking ter ere van slagoffers van die massamoorde vroeg in die vorige eeu
# Die Openbare Beskermer het ‘n ondersoek van stapel gestuur na tenders van miljoene rand wat toegeken is aan ‘n onderneming wat voorheen behoort het aan Tshwane se onderburgemeester en streekvoorsitter van die ANC, Eugene Modise. News24 berig die DA het die ondersoek aangevra en beweer het dat hy steeds voordeel trek uit Triotic Protection Services, wat kontrakte van 119-miljoen-rand vanaf ANC-beheerde munisipaliteite gekry het. Modise beweer hy het sy aandele verkoop. Die Beskermer het bevestig die ondersoek fokus op moontlike wanadministrasie en magsmisbruik en is nog in ‘n vroeë stadium.
# Die Sitruskwekersvereniging verwelkom die regering se waarborg van 51-miljard-rand vir Transnet en toenemende deelname van die privaat sektor. Vanjaar se sitrus-seisoen nader die hoë produksie-weke. Die vereniging se uitvoerende hoof, Boitshoko Ntshabele, sê gladde logistiek is nou uiters belangrik, met Suider-Afrika wat hoop op uitvoere van meer as 171-miljoen kartonne. Transnet het personeel, toerusting en onderhoud van verkoelingshouers bygevoeg. Ntshabele sê hoewel die stukrag van die persoonlike aandeleportefeulje belowend is, eis hulle vinniger spoorwegtoegang en hawe-opgraderings om die doelwit van 100-duisend nuwe werksgeleenthede teen 2032 te bereik.
# Amerika oorweeg glo verpligte sosiale media-ondersoeke vir alle buitelandse studente wat aansoek doen om visums. Dit blyk dat ambassades en konsulate opdrag gegee is om nuwe visum-onderhoude te onderbreek, wat moontlik die verwerking van internasionale studente kan vertraag. Indien dit ingestel word, kan dit duisende mense raak wat beplan om in Amerika te studeer, wat kommer wek oor privaatheid en toegang tot onderwys te midde van strenger immigrasie-ondersoeke. Tammy Bruce van die Departement van Buitelandse Sake wou nie kommentaar lewer nie:
# Sokker: Banyana Banyana se middelveldspeler, Amogelang Motau, sê hulle deelname aan die driehoekige reeks teen Botswana en Zambië is goeie voorbereiding vir die komende Afrikabekertoernooi vir vroue. Suid-Afrika speel vanmiddag teen Botswana in die openingswedstryd op die Lucas Moripe-stadion in Pretoria. Motau sê hulle werk daaraan om ‘n goeie balans tussen senior en junior spelers te bewerkstellig in die internasionale vriendskaplike wedstryde:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-506-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-319-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, Namibië hou vandag sy eerste nasionale herdenking ter ere van slagoffers van die massamoorde deur Duitse koloniale magte van 1904 tot 1908. Duisende Herero’s en Namas is vermoor in wat algemeen beskou word as die eerste volksmoord van die 20ste eeu. Die nasionale vakansiedag sluit ‘n kerslig-nagwaak en ‘n minuut van stilte in. President Netumbo Nandi-Ndaitwah lei die seremonie, wat op genesing en besinning gemik is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….