Nuus 13:00
BULLETIN 28 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Appèlhof hoor Ramaphosa se aansoek aan teen ‘n uitspraak wat koning Misuzulu se erkenning nietig verklaar
# Die ANC-leier in Tshwane se vorige maatskappy kry tenders van 119-miljoen-rand
# En sokker: Banyana Banyana pak Botswana vanmiddag in Pretoria
# Die Appèlhof hoor vandag president Cyril Ramaphosa se aansoek aan teen die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria waarin die erkenning van koning Misuzulu kaZwelithini as Zoeloe-monarg onwettig verklaar is. Die koning is volgens tradisie in 2022 in die koninklike paleis in Nongoma gekroon. Die beslissing het gevolg ná ‘n regsgeding deur prins Simakade Zulu, wat aangevoer het die benoemingsproses was gebrekkig. Die hof het Ramaphosa ook beveel om ‘n komitee te stig om ondersoek in te stel na die proses.
# Tenders van 119-miljoen-rand is toegeken aan ‘n maatskappy wat voorheen verbind is met die voorsitter van die ANC in Tshwane, Eugene Modise. Hy voer aan hy het in 2019 uit Triotic Protection Services bedank. Die tenders wat tussen 2021 en verlede jaar toegestaan is, sluit kontrakte in vir vullisverwydering en die opgradering van infrastruktuur. Opposisiepartye het kommer uitgespreek oor ‘n moontlike belangebotsing en vra deursigtigheid in die verkrygingsproses. Die ANC het nog nie amptelik op die aantygings gereageer nie.
# Die GOOD-party sê die afwenteling van wetstoepassingsmagte alleen sal nie ‘n einde maak aan die bloedvergieting in Wes-Kaapse strate nie. Eenduisend-en-68 mense is tussen Januarie en Maart in die provinsie vermoor, wat ‘n daling van vier-persent is teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dis gevaarlike politieke teater dat afwenteling bendegeweld sal regstel sonder om eers aandag te gee aan die armoede, werkloosheid en apartheids-ruimtelike beplanning wat bendekultuur voed:
# Sokker: Banyana Banyana se middelveldspeler, Amogelang Motau, sê hulle deelname aan die driehoekige reeks teen Botswana en Zambië is goeie voorbereiding vir die komende Afrikabekertoernooi vir vroue. Suid-Afrika speel vanmiddag teen Botswana in die openingswedstryd op die Lucas Moripe-stadion in Pretoria. Motau sê hulle werk daaraan om ‘n goeie balans tussen senior en junior spelers te bewerkstellig in die internasionale vriendskaplike wedstryde:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-766-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-322-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-86-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrikaanse boetiek-bierbrouerye het oorheers op die 2025 Afrika Bierbekerkompetisie in Kaapstad en verskeie medaljes gewen. Sowat 260 biere uit 14 lande is beoordeel. Soul Barrel Brewing het die eerste prys gewen vir die beste bier op die vasteland met sy Wild African Soul. Dit het ‘n sorghum-basis wat in samewerking met Tolokazi Beer gemaak is. Richmond Hill Brewing Company het ook uitgeblink met vyf inskrywings wat elk ‘n medalje gewen het. Die wenners is geloof vir hoe hulle Suid-Afrika se leierskap in bierbrouery gewys het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….