Nuus 11:00
BULLETIN 28 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sê Ramaphosa het nie die Parlement se vrae oor Starlink en swartbemagtiging beantwoord nie
# Die VF Plus sê die gewese Matie-student Theuns du Toit kan nou aanbeweeg sonder om as ‘n rassis bestempel te word
# En rugby: Duhan van der Merwe van Edinburgh is fiks om teen die Bulle te speel
# Build One South Africa gaan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, vra om ‘n skriftelike antwoord van president Cyril Ramaphosa te eis nadat hy nagelaat het om ‘n mondelinge vraag van sy leier, Mmusi Maimane, in die Parlement te beantwoord. Dit het daaroor gegaan of die verslappping van die regulasies van swart ekonomiese bemagtiging wat die deur vir Starlink in Suid-Afrika geopen het, in dieselfde mate vir plaaslike maatskappye sal geld. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê Ramaphosa het die kern van die vraag heeltemal vermy:
Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming sê die toepassing van die beplande Transformasiefonds van 100-miljard-rand sal bestaande pogings tot ekonomiese insluiting skaad. Die doel van die fonds is om deelname van ondernemings in swart besit en gemarginaliseerde groepe te bevorder. Die sentrum het ‘n voorlegging aan die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging gedoen oor die konsepdokument van die fonds. Die uitvoerende hoof, Ann Bernstein, sê die voorstel van die fonds berus op ‘n verkeerde beoordeling van wat transformasie benodig.
# Die Vryheidsfront Plus sê die saak wat daarop gemik was om as bewys te dien van ʼn diepgewortelde kultuur van rassisme by die Universiteit Stellenbosch, het geëindig met die beskuldigde wat onskuldig bevind is. Die oudstudent Theuns du Toit, wat in 2022 aangekla is nadat hy op die besittings van ʼn medestudent geürineer het, is vrygespreek. Die VF Plus se woordvoerder Wynand Boshoff, sê Du Toit kan nou aanbeweeg sonder om as veragtelike rassis gebrandmerk te word:
# Texas se goewerneur, Greg Abbott het ‘n wetsontwerp oor aanlyn kinderveiligheid onderteken. Dit vereis dat Apple en Google gebruikers se ouderdomme nagaan en ouers se goedkeuring kry voordat minderjariges toepassings mag aflaai of aankope in toepassings doen. Abbott sê die nuwe wet sal die Amerikaanse staat in staat stel om ouers meer beheer te gee oor die aanlyn inhoud waartoe hul kinders toegang het. Apple ondersteun die doelwit om kinders se aanlyn veiligheid te verseker, maar is bekommerd omdat die nuwe wetgewing moontlik alle gebruikers se privaatheid bedreig.
# Rugby: Edinburgh se Suid-Afrikaans-gebore Skotse vleuel, Duhan van der Merwe, is terug na ‘n langtermyn-enkelbesering en kan teen die Bulle speel in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd in Pretoria. Hy het gister saam met sy spanmaats na Suid-Afrika gevlieg. Van der Merwe sal ook vanjaar weer die Britse en Ierse Leeus verteenwoordig nadat hy in 2021 saam met die span na Suid-Afrika gereis het. Edinburgh se afrigter, Sean Everitt, beskryf hom as ‘n speler van wêreldgehalte wat ‘n rykdom van ervaring na die span bring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-842-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-307-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….