Nuus 09:00
BULLETIN 28 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die einde van swartbemagtiging is nie in sig nie en vernietig die ekonomie
# Saftu sê SA se G20-presidensie moet veg vir die belange van die Suidelike Halfrond
# En OPEC beoog prysverhogings te midde van stygende wêreldvraag
# Die Vryheidsfront Plus sê na 31 jaar is daar nog geen einde in sig vir swart ekonomiese bemagtiging, wat dié party teenstaan, nie. Corné Mulder van die party sê die ANC se beleid wat op ras berus, is die oorsaak van ‘n werkloosheidsyfer van 32-persent. Hy sê selfs na dekades onder ANC regering, is dit duidelik swart bemagtigig dien slegs as die weg na korrupsie en kaderverryking wat op sy beurt lei tot ‘n afname in produktiwiteit en verlies aan beleggings:
# Die Suid-Afrikaans Vakbondfederasie se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, sê die G20 Presidensie moet veg vir die belange van die Suidelike Halfrond. Suid-Afrika se presidensie, wat op 30 November eindig, is onder die drie afdelings verdeel, naamlik Solidariteit, Gelykheid en Volhoubaarheid. Vavi sê Suid-Afrika moet as deel van die G20 presidensie ook momentum agter die Verenigde Nasies se Belastingkonvensie opbou en die Organisasie vir Ekonomiese samewerking en Ontwikkeling se oorheersing en G7 se boelietaktiek teenstaan.
# Cosatu in Gauteng verwelkom premier Panyaza Lesufi se besluit om die Nasi Ispani-program te laat herleef ten bate van jongmense in die provinsie. Duisende mense is werkloos gelaat toe hul tydelike Nasi Ispani-kontrakte skielik weens begrotingsbeperkings geëindig het. Cosatu se provinsiale voorsitter, Amos Monyela, sê hulle is bewus daarvan dat dit nie ordentlike werk is nie, maar met die ekonomiese stagnasie en hoë werkloosheidsyfer word enige werk wat geskep word, verwelkom:
# OPEC+ sal waarskynlik instem om olieproduksie in Julie met 411-duisend vate per dag te vermeerder. Reuters berig die besluit word Saterdag verwag wanneer agt lede vergader, nadat verhogings meer is as wat in Mei en Junie verwag is. Die verslag dui aan die huidige breër 22-lid-oorsig sal waarskynlik nie die beleid verander nie. Die stap volg terwyl OPEC+ werk om aan die stygende aanvraag te voldoen en sy markaandeel terug te wen, ná groot verlagings sedert 2022. Oliepryse het intussen herstel tot op ongeveer een-duisend-162-rand per vat.
# Krieket: Die Royal Challengers Bengaluru gaan Donderdag in die eerste uitspeelwedstryd teen die voorlopers op die punteleer, die Punjab Kings te staan kom ná ‘n ses-paaltjie-oorwinning teen die Lucknow Super Giants in die Indiese Premierliga. Rishabh Pant se onoorwonne 118 van 61 balle het die Lucknow Super Giants tot 227 vir drie in hulle 20 boulbeurte aangehelp. Die waarnemende kaptein, Jitesh Shamra, se 85 lopies het RCB gehelp om die teiken te haal met agt balle en ses paaltjies oor. Dit is die derde hoogste suksesvolle lopie-jaagtog in die geskiedenis van die toernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen108-duisend-689-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-295-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….