Nuus 08:00
BULLETIN 28 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Afriforum kritiseer minister Hlabisi se opmerking oor moontlike samesmelting van munisipaliteite
# Theuns du Toit oorweeg regsoptrede teen die Universiteit Stellenbosch
# En Israeliese troepe skiet waarskuwingskote op ‘n skare wat ‘n hulpverspreidingsentrum bestorm
# AfriForum het die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, se opmerkings dat kleiner, mislukte munisipaliteite met groter munisipaliteite moet saamsmelt, gekritiseer. Dit volg nadat die minister ‘n omvattende hersiening van die 1998 Witskrif oor Plaaslike Regering bekendgestel het. Dit sal munisipaliteite se befondsingsmodel ondersoek en kan lei tot die sluiting van munisipaliteite wat nie dienste lewer nie. AfriForum-woordvoerder Deidré Steffens sê die samesmelting van munisipaliteite sal nie die kernprobleme oplos nie:
# Die DA sê hy ondersteun die Spesiale Ondersoekeenheid se planne om die Spesiale Tribunaal te vra om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se omstrede hoofkantoor-huurkontrak tersyde te stel. Die vyfjaar-kontrak om 140 parkeerplekke vir personeel in Kaapstad te huur, is deur die vorige NSFAS-hoof, Andile Nongogo, onderteken en verstryk in 2027. Desiree van der Walt van die DA sê die uitspattige vermorsing van studente se geld moes nooit gebeur het nie:
# Die Universiteit Stellenbosch-oudstudent, Theuns du Toit, wat aangekla is nadat hy in 2022 op ʼn medestudent se besittings geürineer het, oorweeg ʼn siviele eis teen die universiteit. Die Stellenbosch-landdroshof het hom onskuldig bevind aan crimen injuria en kwaadwillige saakbeskadiging. Du Toit is geskors nadat hy na ʼn tugverhoor skuldig bevind is aan oortreding van studente se dissiplinêre kode. Sy prokureur, Dirk van Niekerk, het aan News24 gesê die universiteit het roekeloos opgetree en sy kliënt skuldig bevind sonder dat bewyse behoorlik getoets is.
# Die Israelse Weermag sê hy moes waarskuwingskote naby die nuwe hulpverspreidingsentrum in Rafah, Gaza, afvuur. Dit volg nadat duisende Palestyne heinings gebreek het om by voorrade uit te kom en die pasgestigte Gaza Humanitêre Stigting beheer oor die verspreidingsperseel verloor het. Die stigting wat deur Israel en Amerika ondersteun word, sê hy het tot dusver sowat agt-duisend kartonne voedsel uitgedeel wat neerkom op 462-duisend maaltye. Die hulpverspreiding sal vandag voortgaan.
# Tennis: Die Brit Cameron Norrie het die elfde gekeurde Rus, Daniil Medvedev, verslaan om deur te dring na die Franse Ope se tweede ronde. Die driemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, het die Amerikaner, Mackenzie McDonald, gemaklik geklop terwyl die Rus, Andrey Rublev, met Suid-Afrika se Lloyd Harris afgereken het. In die vroueafdeling is Coco Gauff van Amerika deur na die tweede ronde nadat sy Olivia Gadecki van Australië geklop het, terwyl Magdalena Fręch van Pole die Tunisiër, Ons Jabeur, afgeransel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-892-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-298-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….