Nuus 07:00
BULLETIN 28 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# # Minister Macpherson stel ‘n projek bekend om munisipale infrastruktuur te verbeter
# Eskom het planne om sy afhanklikheid van regeringsondersteuning te verminder
# En krieket: Wolvaardt sluit vir nog twee jaar by die Adelaide Strikers aan
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê die Neem-‘n-Munisipaliteit-Aan-projek is ʼn geleentheid om dienslewering in Suid-Afrika te verbeter. Die projek is in sy toetsfase by drie munisipaliteite. Dit baan die weg vir Infrastruktuur Suid-Afrika om saam met munisipaliteite te werk om vinnig in te gryp en te ondersteun met infrastruktuurprojekte. Macpherson sê ʼn plan is gereed om munisipaliteite te help om infrastruktuur ter waarde van sowat 3,5-miljard-rand te lewer:
# Eskom se hoof, Dan Marokane, sê hulle doelwit is steeds om die kragverskaffer se afhanklikheid van regeringsondersteuning te verminder deur die maatskappy na finansiële volhoubaarheid te lei. Die staatsinstelling is in die laaste jaar van ʼn driejaar-skuldverligtingsprogram waartydens die regering hom met ʼn skuldverligtingspakket van 254-miljard-rand ondersteun het. Marokane sê hulle is vasbeslote om voort te gaan met pogings om Eskom se finansiële en bedryfsprestasie om te keer.
# Wetenskaplikes van die Afrika-Unie se Ontwikkelingsagentskap sê landbou-innovering is die sleutel tot die bekamping van wanvoeding. Navorser Ildephonse Musafiri het tydens die G20-vergadering van hooflandbouwetenskaplikes in Polokwane, Limpopo, die noodsaak beklemtoon om voedselstelsels regoor Afrika te hervorm. Besprekings het gefokus op die bevordering van produktiwiteit, die finansiering van landbou en betrokkenheid deur die jeug en vroue. Musafiri het beklemtoon dat wetenskaplike navorsing en bewysgebaseerde strategieë noodsaaklik is vir volhoubare boerdery en permanente verandering in voedsel- en voedingsekerheid.
# Die polisie sê die 53-jarige man wat Maandag in Liverpool, Engeland, in ʼn skare ingeploeg het, is weens poging tot moord, roekelose bestuur en bestuur onder die invloed van dwelms vasgetrek. Duisende mense was in die stad se strate vir Liverpool se Premierliga-parade toe die voorval plaasvind. Meer as 50 mense wat kinders insluit, is beseer en elf is nog in die hospitaal. Merseyside-polisie se assistent-hoofkonstabel, Jenny Sims, het herhaal dat die voorval nie as terrorisme beskou word nie:
# Krieket: Die Protea Vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, sal vir nog twee jaar beskikbaar wees vir Adelaide Strikers in Australië se Women’s Big Bash League. Sy het haar kontrak verleng na vyf seisoene waartydens sy een-duisend-726 lopies aangeteken het. Die 26-jarige Wolvaardt sê die span het haar tweede tuiste geword, en sy is opgewonde en vasbeslote om hulle te help om meer sukses te behaal. Die span het die titel in 2022 en 2023 gewen, maar verlede jaar sewende geëindig. Vanjaar se kompetisie begin in November.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-952-dollar-20-sent. Die prys van goud is drie-duisend-304-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-97-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het ʼn spesiale amptelike kategorie-een-begrafnis aangekondig vir die ANC-veteraan, wyle Gertrude Shope. Sy is verlede Donderdag op 99-jarige leeftyd dood. Sy het as 29-jarige by die ANC aangesluit en was ook die party se Vroueliga-president. Haar begrafnis vind Saterdag plaas en die seremonie sal militêre eerbewyse insluit. Ramaphosa het opdrag gegee die landsvlag moet van vandag af tot die aand van die begrafnis landwyd halfstok hang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….