Nuus 06:00
BULLETIN 28 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering werk hard om Suid-Afrikaners teen die hoë lewenskoste te beskerm
# Donald Trump gaan alle federale kontrakte met Harvard-universiteit kanselleer
# En branderplankry: Jordy Smith is boaan die Wêreldbranderplankliga-ranglys
# President Cyril Ramaphosa het homself daartoe verbind om hoë voedselpryse te beveg namate stygende armoede miljoene Suid-Afrikaners raak. In antwoord op mondelinge vrae in die Nasionale Vergadering het Ramaphosa maatreëls soos inflasieteikens, geen BTW op basiese voedselprodukte, verhoogde maatskaplike toelaes, en gratis basiese dienste vir meer as 11-miljoen huishoudings uitgelig. Hy het ook munisipaliteite aangespoor om registers van behoeftiges by te werk om te verseker dat die armes behoorlik ondersteun word:
# Die DA het ‘n beroep op die Parlement se Komitee vir Maatskaplike Ontwikkeling gedoen om SASSA dringend te ontbied om ‘n wintergereedheidsplan voor te lê. Alexandra Abrahams van die party sê duisende kwesbare Suid-Afrikaners trotseer erge toestande by SASSA-kantore weens mislukte e-dienste, swak bestuur van rye en beperkte toegang tot ondersteuning. Sy eis onmiddellike ingrypings om waardigheid, veiligheid en toeganklike dienste vir toelaagbegunstigdes gedurende die koue seisoen te verseker:
# Die Departement van Water en Sanitasie het beduidende vordering gerapporteer met die bekamping van rioolbesoedeling in Emfuleni. Die departement sê met die inwerkingtreding van Artikel 63 van die Waterdienstewet in 2021 het Rand Water groot verbeterings aangepak, ondermeer die opknapping van pompstasies en die vervanging van rioolpype. Die Sebokeng- en Rietspruitsuiweringsaanlegte is gedeeltelik opgegradeer. Die departement sê danksy ‘n toekenning van 7,6-miljard-rand oor sewe jaar het die departement rioolstortings drasties verminder, maar waarsku volledige oplossings sal nog kapasiteitsuitbreiding vereis.
# President Donald Trump gaan na wat berig word federale agentskappe opdrag gee om alle regeringskontrakte met Harvard-universiteit te kanselleer. Die ongeveer 30 kontrakte is gesamentlik 1,8-miljard-rand werd. Sedert April is reeds 57-miljard-rand se navorsingstoelaes gevries. Daar is ook probeer om die universiteit te verbied om buitelandse studente in te skryf, ‘n stap wat tydelik deur federale howe geblokkeer is. Die New York Times sê die opdrag aan federale agentskappe beweer die universiteit pas steeds rassediskriminasie toe in sy toelatingsproses.
# Branderplankry: Die Suid-Afrikaanse branderplankryer Jordy Smith het sy tweede oorwinning van die seisoen by die Margaret River Pro in Australië behaal en daarmee die hoogste posisie op die Wêreldbranderplankliga-punteleer behaal. Smith het die beoordelaars beïndruk met sterk bewegings en golfbestuur en sy Amerikaanse mededinger Griffin Colapinto oorheers. Hy sê hy is opgewonde oor die komende ronde in Kalifornië en sy verwagting vir die kampioenskap is hoog:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-169-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-305-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-37-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het hulde gebring aan die akteur Presley Chweneyagae en hom beskryf as een van Suid-Afrika se kragtigste kreatiewe stemme. Die 40-jarige, wat in die Oscar-bekroonde Suid-Afrikaanse film, Tsotsi, gespeel het, is Dinsdagoggend oorlede. Presley is ook aan gehore bekend vir sy rol as Cobra in die gewilde telenovela The River. McKenzie sê Presley was ‘n ware baanbreker en storieverteller wat die siel van ‘n nasie in sy kuns weerspieël het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….