Nuus 18:00
BULLETIN 27 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bevestig Suid-Afrika en VSA het regeringsvlak-dialoog hervat
# ‘n Gewese Matie-student word onskuldig bevind in die uriene-sage
# En krieket: Die Proteas en Namibië speel in Oktober hulle heel eerste T20 teen mekaar
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika het sy handelsverhoudings met Amerika suksesvol herstel na ‘n hoëvlakbesoek aan Washington verlede week. Hy het op ‘n parlementêre vraag bevestig dat besprekings oor heffings en beleggings hervat is en dat Amerika se deelname aan die G20-beraad in November uiters belangrik is. Ramaphosa het sy privaat vergadering met president Donald Trump as betekenisvol beskryf en gesê die ontmoeting het gehelp om dialoog oor belangrike sake te laat herleef:
# Die MK-party het Mzwanele Manyi as sy hoofsweep in die Parlement vervang met die voormalige speaker van Johannesburg se stadsraad, Colleen Makhubele. Die party se onderleier, John Hlophe, het die aankondiging gedoen en Manyi bedank vir sy diens. Hy sê die verandering is onmiddelik van krag. Hlophe het parlementslede versoek om Makhubele in haar nuwe rol te ondersteun en vertroue uitgespreek in haar vermoë om met krag en visie te lei terwyl die party voortgaan om sy doelwitte na te streef.
# ‘n Gewese student van die Universiteit Stellenbosch, Theuns du Toit, is onskuldig bevind aan crimen injuria en kwaadwillige saakbeskadiging in die uriene-sage. Die voorval in 2022 het hom in ‘n video gewys waar hy op Babalo Ndwayana se besittings urineer in die koshuis Huis Marais. Die landdros het teenstrydighede uitgewys in die klaer se getuienis en bevind die staat kon nie bevind dat die besope Du Toit dit opsetlik gedoen het nie. Die universiteit het hom na die voorval uitgeskop. Du Toit het sy verligting uitgespreek en sê hy studeer nou elders.
# Krieket: Die Protea-mansspan en Namibië kom op 11 Oktober in Windhoek teen mekaar te staan in die eerste T20-wedstryd tussen die buurlande. Dit vind plaas tydens die inwyding van Namibië se nuwe krieketstadion wat wedstryde sal aanbied tydens volgende jaar se Onder-19 Wêreldbekertoernooi en die eendag-Wêreldbekertoernooi die jaar daarna. 2027 se toernooi word gesamentlik aangebied deur Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe. Die uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, Pholetsi Moseki, sê hulle is trots om deel te wees van die geskiedkundige geleentheid.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-109-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-298-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-67-sent per vat.
# En laastens, ‘n sesjarige see-olifant wat vroeg vanoggend in die strate van Gordonsbaai in Kaapstad gesien is, is verdoof en sal na ‘n veilige plek verskuif word. Die sigbaar uitgeputte rob is amper ‘n kilometer van die kus gewaar waar hy met teen ‘n geparkeerde voertuig gerus het. Amptenare van die Kaap die Goeie Hoop Dierebeskermings-vereniging sê die dier was hoogs ontsteld en moes dringend verskuif word. ‘n Joernalis van Bulletin, Johan du Toit, sê amptenare is steeds op die toneel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….