Nuus 16:00
BULLETIN 27 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verwelkom die hupstoot van 238-miljard-rand met die onthulling van rekordbelegging in Suid-Afrikaanse-infrastruktuur
# Die EFF beskuldig minister Malatsi daarvan dat hy wette buig vir Musk se Starlink
# En Tesla se verkope in Europa daal met 52,6-persent in April
# President Cyril Ramaphosa het die vrystelling verwelkom van die 2024/2025 Konstruksieboek, wat 250 ten volle befondsde projekte ter waarde van meer as 238-miljard-rand uiteensit. Dit verteenwoordig ‘n rekord openbare belegging in paaie, energie, water en logistiek wat hernude fokus aandui na jare van agteruitgang. Die president sê vir die eerste keer sluit die boek gemeenskaps-infrastruktuurprojekte in wat onder toesig van die Nasionale Tesourie bedryf word, en die regering se verbintenis tot landwye ontwikkeling en ekonomiese herstel aandui:
# Die EFF sê die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, oorskry sy magte deur ‘n ministeriële beleidsvoorskrif te gebruik om die reëls van die inligtings- en kommunikasie-tegnologie-sektor te verander sonder behoorlike wetgewing. Die party het tydens die inligtingsvergadering van die Parlement se Kommunikasiekomitee kommer uitgespreek oor die uitwerking van buitelandse satellietmaatskappye soos Starlink van Elon Musk op plaaslike werkgeleenthede en die telekommunikasiebedryf. Sinawo Thambo van die EFF sê Malatsi help buitelandse maatskappye om wette te systap wat 30-persent swart eienaarskap vereis:
Motorverkope van Musk se onderneming, Tesla, het intussen verlede maand met meer as die helfte gedaal terwyl Chinese elektriese motorvervaardigers se aandeel gestyg het. Verkope van elektriese motors het oor die algemeen gestyg in die 27 Europese Unie-lande, maar Tesla se aandeel het skerp gedaal te midde van die kollig op Musk se betrokkenheid by die Amerikaanse president, Donald Trump, en die verouderende reeks. Die Europese Motorvervaardigersvereniging sê Tesla se verkope het in April tot vyf-duisend-475 eenhede gedaal, ‘n afname van 52,6-persent vanaf dieselfde maand verlede jaar.
# Franse parlementslede stem vandag oor ‘n omstrede wetsontwerp oor die reg om te sterf. Dis die eerste stap in ‘n lang parlementêre proses om wettig mediese hulp te verleen aan pasiënte om hulle eie lewens te beëindig in duidelik-gedefinieerde omstandighede. President Emmanuel Macron dring daarop aan dat dit beperk moet word tot mense met ongeneeslike siektes en intense fisiese of sielkundige pyn. As die konsepwet vandag goedgekeur word, sal dit na die Senaat verwys word voordat dit na die Laerhuis terugkeer vir ‘n finale stemming iewers volgende jaar.
# Rugby: Vanjaar se reeks tussen die Wallabies en die Britse en Ierse Leeus kan deur ‘n valbylpunt in bykomende tyd beslis word. Die hoof van Rugby Australië, Phil Waugh, sê hulle het die voorstel gedoen in die geval waar die reeks op een wedstryd elk staan en die laaste toets gelykop eindig. 2017 se reeks tussen die Leeus en Nieu-Seeland is gedeel toe die beslissende wedstryd 15-elk geëindig het. Waugh sê hulle stel die toeskouers se ervaring bo alles, en wag op die besoekers se besluit in die saak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-832-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-296-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….