Nuus 15:00
BULLETIN 27 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beklemtoon die rol van infrastruktuur om handel te bevorder en kostes te verminder
# Forum for South Africa sê wette moenie vir een persoon verslap word nie
# En die ster van die fliek “Tsotsi” sterf op 40
# Die regering sê infrastruktuur van gehalte in die water-, elektrisiteit-, onderwys- en die gesondheid-sektor verhoog lewenstandaarde en bevorder nasionale eenheid. President Cyril Ramaphosa het afgevaardigdes toegespreek op die infrastruktuur-simposium in Kaapstad en sê infrastruktuur wat goed ontwikkel is, verbind die nasie en die vasteland, ondersteun handel en verlaag die koste daarvan om sake te doen. Hy sê dit versterk ook sleutelsektore soos vervoer, telekommunikasie en vermaak. Ramaphosa beklemtoon verbeterde infrastruktuur sal naatlose handel op die vasteland moontlik maak:
# Forum for South Africa veroordeel die regering se plan om wette oor swart ekonomiese bemagtiging te verslap vir die miljardêr Elon Musk. Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, het verlede week ‘n beleidsriglyn in die Staatskoerant gepubliseer om swart bemagtigingsvereistes vir satellietdiensmaatskappye te verslap. Indien dit goedgekeur word, mag Musk se Starlink-internetdiens in Suid-Afrika bedryf word. Tebogo Mashilompane van die forum sê hierdie groot beleidsverskuiwing moenie toegelaat word nie:
# Die DA sê polisiefunksies moet aan plaaslike en provinsiale regerings gegee word om bendegeweld in die Wes-Kaap te help bekamp. Dit volg na ‘n bloedige naweek in Kaapstad, waar 26 moorde, 58 pogings tot moord en 84 bendeverwante voorvalle aangemeld is. Thomas Walters van die DA sê plaaslike pogings soos die Wetstoepassingsbevorderingsplan blyk doeltreffend te wees, maar word deur beperkte magte belemmer:
# Sokker: Spanje se afrigter, Luis de la Fuente, het die middelveldspeler Isco opgeroep vir die laaste vier Nasiesliga-wedstryde, ses jaar na sy laaste verskyning vir La Roja. Die 33-jarige het ‘n uitstekende seisoen vir Real Betis gehad en hulle gehelp om die Konferensieliga-eindstryd te haal waar hulle môre teen Chelsea te staan kom. Spanje, die Euro 2024-wenner, pak Frankryk in die halfeindstryd in Stuttgart op 5 Junie voor ‘n moontlike eindstryd teen Duitsland of Portugal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-600-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-289-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekroonde Suid-Afrikaanse akteur Presley Chweneyagae is op die ouderdom van 40 oorlede. Die nuus is vanoggend bevestig maar besonderhede oor sy dood bly onbekend. Chweneyagae het wêreldwyd bekend geword vir sy rol in die Oscar-bekroonde rolprent Tsotsi. Hy is in 1984 in Mahikeng, Noordwes, gebore en het ook in The River, iNumber Number en State of Violence gespeel. Hy was ook die hoofkarakter in die splinternuwe reeks Cobrizi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….