Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 27 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Mej Wêreld Suid-Afrika, Zoalize Jansen van Rensburg, het die gesogte Wêreldontwerpers-toekenning gewen op die Mej Wêreld 2025-geleentheid in Hyderabad, Indië. Die plaaslike skoonheid was geklee in ‘n protea-geïnspireerde rok deur die ontwerper Juan William Aria en het die beoordelaars stomgeslaan met ‘n treffende huldeblyk aan Suid-Afrika se flora en eenheid. Die satyn-en-glas-meesterstuk bevat handgeborduurde patrone en pasgemaakte kunswerke. Jansen van Rensburg het haar hartlike dank uitgespreek en noem dit ‘n viering van wie Suid-Afrikaners is. Mej Wêreld se eindronde vind Saterdag plaas.
# Die Suid-Afrikaanse musieksensasie Tyla het die Favourite Afrobeats-kunstenaarskategorie gewen op die Amerikaanse Musiektoekennings wat in Las Vegas gehou is. Billie Eilish was die groot wenner met sewe toekennings, insluitend Kunstenaar van die Jaar, Album van die Jaar vir Hit Me Hard Soft, gunsteling vroue-popkunstenaar en Liedjie van die Jaar vir Birds of a Feather. Beyoncé, SZA en Eminem het elk twee toekennings verower. Gracie Abrams is as nuwe Kunstenaar van die Jaar aangewys. Rod Stewart is met die lewensprestasie-toekenning bekroon, terwyl Janet Jackson die Ikoon-toekenning ontvang het.
# Die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Menslike Wetenskappe het ‘n eredoktorsgraad toegeken aan oudpresident Thabo Mbeki se vrou, Zanele, vir haar lewenslange bevordering van ‘n inklusiewe samelewing en die regte van vroue. Dit fokus spesifiek op die bemagtiging van landelike vroue en die versterking van hulle stemme. Mbeki het die organisasie Women in Dialogue gestig om ‘n stem aan Afrika se vroue te gee. Sy het gegradueerdes aangemoedig om hulle vaardighede te gebruik om hulle uit armoede op te hef:
# Hillbrow in Johannesburg se strate is gevul met musiek, dans, teater en akrobate tydens die Hey Hillbrow! Let’s Dlala!-fees. Meer as 300 kunstenaars, insluitend die jeug en gestremde groepe, het deelgeneem aan die openbare optredes met die tema Time Travel Through Dreamin. Die geleentheid is gemik op die herwinning en herverbeelding van Johannesburg se middestad. Die Windybrow-kunssentrum en plaaslike vennote het die fees gereël wat kreatiwiteit, inklusiwiteit en veerkragtigheid ten toon gestel het. Die fees se kurator, Tamzyn Botha, sê die kunste is noodsaaklik vir gemeenskaps-verandering.
# En ten slotte: Meer as vierduisend-500 leerders het tot dusver vanjaar 13 loopbaanuitstallings by biblioteke in Kaapstad bygewoon. Die stad sê dis byna dubbeld soveel as verlede jaar en bevestig die groeiende vraag na programme vir jeuggeleenthede. Die uitstallings word aangebied deur die Biblioteek- en Inligtingsdienste en die Departement Gemeenskaps-, Kuns- en Kultuurontwikkeling. Die metro sê die loopbaanuitstallings weerspieël sy voortgesette verbintenis om deur beleggings in die jeug ‘n veiliger en gesonder stad te bou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….