Nuus 09:00
BULLETIN 27 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Bantu Holomisa wil ‘n gesamentlike SA-VSA ondersoek hê na die volksmoordbewerings
# Saftu eis die onmiddellike omkering van die vereistes om Starlink tegemoet te kom
# En Darren Scott is oorlede
# UDM-leier Bantu Holomisa vra ‘n gesamentlike ondersoekkomitee tussen Suid-Afrika en Amerika om die oorsprong, doel en geloofwaardigheid van ʼn wit volksmoord in Suid-Afrika te ondersoek. President Donald Trump het beweer daar is ʼn volksmoord teen die land se wit plaasboere, maar die regering ontken dit. Holomisa het aan Newzroom Afrika gesê daar is ʼn risiko dat hierdie bewerings vir politieke of ekonomiese agendas gemanipuleer kan word:
# Saftu dring aan dat die besluit om die 30-persent swartbemagtigingvereiste te laat vaar vir Elon Musk se Starlink of enige ander korporasie, onmiddellik omgekeer word. Dit volg nadat die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, Vrydag ʼn voorgestelde beleidsaanwysing aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika voorgelê het om lisensieregulasies onder die Wet op Elektroniese Kommunikasie te wysig. Saftu sê dit kan die land se bestaande regulatoriese raamwerke ondermyn, wat wette oor spektrumlisensiëring insluit.
# Die metaalwerkersvakbond NUMSA hou vandag ‘n optog na die kantoor van KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, in Pietermaritzburg. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola sê hulle eis dat die provinsiale regering ophou om tenders toe te ken aan sekerheidsmaatskappye wat nie aan vereistes voldoen nie. Sy beskuldig hierdie firmas daarvan dat hulle werkers bedrieg deur mediese en pensioenbydraes af te trek sonder om dit oor te betaal:
# Die Franse president, Emmanual Macron het ‘n video ligtelik afgemaak wat wys hoe sy vrou hom in die gesig stamp toe hulle gereed gemaak het om van ‘n vliegtuig in Vietnam af te klim. Die kort video wat ‘n Associated Press kameraoperateur geneem het, toon die vliegtuig se deur wat oopgaan met Macron wat sy verskyning maak. Sekondes later lyk dit asof sy vrou se hand hom stoot, wat hom agtertoe laat tree voor hy weer sy balans herwin. Macron sê hy en sy vrou was besig om grappies te maak soos hulle gewoonte is. Hy het die video gekritiseer as sensasie.
# Krieket: Die Punjab Kings het die Mumbai Indians met sewe paaltjies geklop wat aan hulle ‘n eerste of tweede plek in die Indiese Premierliga waarborg voor die uitspeelwedstryde. Die Mumbai Indians het 184 vir sewe in hulle 20 boulbeurte behaal. In antwoord hierop het Josh Inglis en Priyansh Arya 109 lopies van 59 balle om die tweede paaltjie gemoker en die Punjab Kings het die teiken behaal met nege balle oor. Die Punjab Kings speel nou óf teen die Royal Challengers Bangalore óf die Gujurat Titans in die kwalifiserende ronde Donderdag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-951-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-90-sent per vat.
# En ons sluit af met hartseernuus: Die Suid-Afrikaanse veteraanomroeper Darren Scott is oorlede. Hy het jare lank teen melanoom, ‘n aggressiewe soort velkanker, geveg. Scott het meer as vier dekades agter die mikrofoon deurgebring om Suid-Afrikaners in te lig en te vermaak. Hy het by van die land se bekendste radiostasies gewerk, insluitend Radio Bop, 5FM, Jacaranda, East Coast Radio, en uiteindelik by Hot 102.7FM beland. Hy het verlede jaar 40 jaar in radio gevier en is in die Radio Awards Hall of Fame opgeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….