Nuus 07:00
BULLETIN 27 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA se federale raad herbevestig die party se standpunt oor onteiening
# Die Amerikaanse spesiale gesant sê ‘n skietstilstandooreenkoms in Gaza is op die tafel
# En krieket: Die afrigter van die Protea-vrouespan is bly Marizanne Kapp is terug
# Die DA se federale raad het ‘n mosie aanvaar om die party se standpunt teen onteiening sonder vergoeding te bevestig. Die party sê hy ondersteun Artikel 25 van die Grondwet, en dat regverdige en billike vergoeding soos deur ʼn geregshof bepaal, vir enige onteiening betaal moet word. Die DA se nasionale woordvoerder, Karabo Khakhau, sê die party gaan voort met die hofsaak om die grondwetlikheid van die Onteieningswet in die Hooggeregshof uit te daag:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, en haar adjunk, Reginah Mhaule, bied ‘n seminaar in Noordwes aan oor die bevordering van toegang tot vroeë kinderversorging en -onderwys van gehalte. Die geleentheid sal vernuwende strategieë ondersoek om die toeganklikheid van onderwys te verbeter. Die seminaar gaan die vergadering van die G20-onderwyswerkgroep vooraf, wat môre en Donderdag plaasvind.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê fondse aan spesialisskole is weens groter begrotingstekorte verminder. Die departement het sedert 2022 befondsing aan hierdie skole van 69,29-miljoen-rand in 2022 tot net meer as 13-miljoen in 2024 verminder wat ʼn verlaging van 81,36-persent is. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê omdat meer skole as spesialisskole aangewys is, moet hulpbronne by meer versprei word:
# Die Vereniging van Staatsamptenare veroordeel die wrede moord op twee gesondheidswerkers van die St Elizabeth-hospitaal in Lusikisiki, in die Oos-Kaap. ‘n Verpleegster en ‘n adjunkdirekteur is verlede week in hulle huis in Palmerton vermoor. Die motief is nog onbekend. Dit volg ná die onlangse moord van ‘n ambulanswerker in Jansenville. Thami Makuzeni van die vakbond eis dringende optrede van die polisie en beter sekerheid vir gesondheidswerkers:
# Amerika se spesiale gesant, Steve Witkoff, sê ʼn skietstilstand/gyselaar-ooreenkoms vir Gaza wat die weg kan baan vir ʼn einde aan die oorlog is tans op die tafel. Dit volg nadat Israel sy militêre optrede in Gaza verskerp het. Die naweek is minstens 54 Palestyne dood waarvan die meeste in ʼn skool geskuil het wat ontheemde gesinne huisves. Witkoff het aan CNN gesê die voorstel sluit in dat die helfte van die lewende gyselaars en die helfte van dié wat gesterf het, oorhandig word in ruil vir ʼn wapenstilstand.
# Krieket: Die hoofafrigter van die Protea-vrouespan, Mandla Mashimbyi, sê hy is baie opgewonde om Marizanne Kapp, Tumi Sekhukhune en Ayanda Hlubi terug te hê. Die trio is deel van die groep vir volgende maand se witbaltoer na die Wes-Indiese Eilande wat bestaan uit drie eendagwedstryde en drie T20’s. Kapp het die eendagreeks in Sri Lanka misgeloop. Mashimbyi sê dis goed vir die span om ʼn ervare speler soos Kapp te hê:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-614-dollar-40-sent. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….