Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 26 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Student aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Andile Wiseman Nkalanga, is met die gesogte Kanselierstoekenning vereer vir uitnemende akademiese prestasie in die Fakulteit Inligting- en Kommunikasietegnologie. Hy het 16 onderskeidings behaal tydens sy studie vir ʼn diploma in Rekenaarwetenskap. Nkalanga erken dat dit nie maklik was nie, maar sê sy vasbeslotenheid om uitsonderlike uitslae te behaal, het hom gemotiveer. TUT sê Nkalanga is ʼn voorbeeld van die universiteit se doel om toekomstige leiers voor te berei wat vernuwing en vooruitgang aanvuur.
# Die tweede jaarlikse Khuma-rolpprentfees in Noordwes gaan die bekroonde en legendariese akteur, Moditle “Boikie” Pholo, vereer. Hy is veral bekend vir sy rol as Raitlhwana in the 1980’s sitkom, Lesilo Rula. Pholo spog met ʼn loopbaan van meer as vyf dekades en kry erkenning vir sy uitstaande bydrae tot die Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiebedryf. Die driedaagse fees wat Woensdag in die Philemon Masinga-sportsaal begin, beloof om ʼn dinamiese geleentheid te wees wat Suid-Afrika se lewendige storievertel-tradisie vertoon.
# Om Afrikamaand te vier, hou die William Humphreys-kunsgalery in Kimberley in die Noord-Kaap twee groot uitstallings. Bongi Bengu se werk, My Cup Runneth Over, en Spirits and Souls van Osan Obert, onder kuratorskap van Chepape Makgato, beklemtoon geestelike diepte en kultuur. Makgato het aan SABC gesê die twee uitstallings is meer as net kuns-aanbiedings. Hy sê dis intens persoonlike uitdrukkings van identiteit, kulturele erfenis en geërfde wysheid:
# Die Humanity Foundation, in samewerking met Rise Against Hunger, het die verpakking en verspreiding van meer as 27-duisend etes gevier. Die etes is aan behoeftige inwoners van Boksburg in Gauteng geskenk. Die geleentheid by die Hoërskool Voortrekker het sy doelwit van 26-duisend maaltye met die hulp van 97 vrywilligers oorskry. Die stigting ondersteun Rise Against Hunger se vroeë kinderjare-ontwikkelingsprogram en die Urban Humanity Feed-projek. Hulle wil die veldtog later vanjaar na Benoni uitbrei en moedig maatskappye aan om hul pogings te ondersteun.
# En ten slotte: Disney se aksiefliek Lilo and Stitch het tydens sy openingsnaweek die eerste plek op die lokket-trefferlys gehaal. Die fliek handel oor ‘n chaotiese ruimtewese wat in Hawaii neerstort en deur ‘n jong meisie en haar ouer suster aangeneem word. Mission: Impossible – The Final Reckoning, waarin Tom Cruise die spioen Ethan Hunt speel, het op nommer twee geopen. Die sesde aflewering in Warner Brothers en New Line se langlopende gruwelflieks, Final Destination Bloodlines, is derde. Disney en Marvel se Thunderbolts, en Warner Brothers se vampierriller Sinners het die top vyf voltooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….