Nuus 11:00
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit stel sewe-miljoen-rand beskikbaar om rassewette in Suid-Afrika te stop
# Ses gesinslede sterf in ‘n brand aan die Gautengse Oos-Rand
# En Trump stuur ‘n sterk waarskuwing aan Putin ná die jongste aanvalle in Oekraïne
# Solidariteit sê hy verskerp sy veldtog om rassewette in Suid-Afrika te stop en het daarom ‘n regsfonds van sewe-miljoen-rand beskikbaar gestel. Die fonds word gebruik vir talle hofsake teen die nuwe rasregulasies, ʼn saak van minagting van die hof teen president Cyril Ramaphosa, en een teen die voorgestelde nuwe Transformasiefonds van 100-miljard-rand. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê hulle sal binnekort ʼn verslag oor die uitbreiding van rassewette aan president Donald Trump se administrasie oorhandig:
# Business Leadership South Africa sê president Cyril Ramaphosa se besoek aan die VSA het duidelik getoon dat die land betroubare en bestendige handelsbetrekkinge met die grootste wêreldmarkte benodig. Amerika is Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê Trump se administrasie het deur sy tariewe ernstige ontwrigting veroorsaak onder wêreldwye handelstelsels wat berus op gelyke behandeling en gedragsreëls. Sy sê Suid-Afrika gaan in die toekoms aansienlik minder sake doen met Amerika, wat die internasionale handelstelsel meer mededingend sal maak.
# Ses lede van een gesin, insluitend kinders, is vanoggend dood in ‘n brand in ‘n hut in die Marikana-informele nedersetting in KwaThema aan die Gautengse Oos-Rand. Sewe mense het geslaap toe die brand uitgebreek en hulle oorval het. Die woordvoerder van Ekurhuleni se Nooddienste, William Ntladi, sê toe hulle op die toneel aankom, het hulle die viervertrekhut in vlamme gevind, terwyl inwoners dit probeer blus het:
# Trump het sy Russiese eweknie, Vladimir Putin, gekritiseer en sê hy is verbaas dat Rusland sy bombardering van Oekraïnse stede verskerp het. Dit volg nadat Rusland 298 hommeltuie en 69 missiele op Oekraïne afgestuur het. Twaalf 12 mense, onder wie kinders, is dood. Trump oorweeg nóg sanksies teen Rusland en waarsku dat Putin se pogings om Oekraïne oor te neem, tot Rusland se ondergang sal lei:
# Sokker: Die Premierligaspan, Aston Villa, het ʼn amptelike klagte ingedien teen die skeidsregter Thomas Bramall en beskuldig hom dat hy ʼn beslissing gemaak het wat hulle ʼn plek in volgende seisoen se Kampioeneliga kan kos. Bramall het Morgan Rogers se doel in die 73ste minuut van die kragmeting met Manchester United gekanselleer terwyl die telling nul-elk was, en die middelveldspeler van vuilspel teen doelwagter Altay Bayindir beskuldig. United het die wedstryd 2-0 gewen. Villa sê so ʼn belangrike wedstryd moes ʼn meer ervare skeidsregter gehad het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-995-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….