Nuus 11:00
BULLETIN 25 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudingesê minister Malatsi se pragmatiese stappe word verwelkom, maar groter treë is nodig vir ekonomiese groei
# Die Activists and Citizens Forum sê Ramaphosa-afvaardiging se Withuis-besoek het mag aan Donald Trump oorgegee
# En, Eskom sê dieselverbruik sal na verwagting afneem
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, se besluit om die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika opdrag te gee om regulatoriese veranderinge in die telekommunikasiesektor dringend te oorweeg, is ‘n welkome stap om Suid-Afrika na ‘n groeivriendelike omgewing te verander. Malatsi het aangekondig dat die regering die vereiste 30% breëbasis-swart ekonomiese bemagtiging sal aanpas om die toetrede van Elon Musk se Starlink tot die Suid-Afrikaanse mark te vergemaklik. Hermann Pretorius van die IRV sê daar is nog ‘n lang pad wat voorlê om alle groeihindernisse te verwyder.
# Die Activists and Citizens Forum sê president Cyril Ramaphosa moet eerlik wees met die burgers van die land en sê wat sy werklike doel was met die besoek aan die Withuis. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê kabinetsministers het soos toeskouers gesit terwyl president Donald Trump se genooide gaste, Johan Rupert, Ernie Els en Retief Goosen, as spreekbuis vir Suid-Afrika opgetree het:
# Eskom sê besteding op diesel is steeds binne die begroting vir die huidige boekjaar. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê tot op datum het die kragnutsmaatskappy sowat 3,11-miljard-rand op brandstof vir die oopsiklus-gasturbinevloot bestee wat meer as 520-gigawatt-uur opgewek het. Sy sê dieselverbruik sal na verwagting daal, namate meer eenhede na langtermyn herstelwerk weer in bedryf kom en onderhoudswerk verminder, wat beskikbare opwekkingsvermoë sal verhoog:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die enigste manier waarop die provinsie misdaad meer effektief kan aanpak, is deur die polisiëringshulpbronne en gesag wat inwoners nodig het en verdien, van die nasionale regering te bekom. Polisiemisdaadstatistieke het getoon dat daar ‘n afname van 4-persent in die algehele moordsyfer vir die vierde kwartaal van 2024/2025 was. Dit volg op ‘n afname van 7,9-persent in die derde kwartaal en ‘n afname van 8,7-persent in die tweede kwartaal. Die provinsie se LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais sê die jongste afname verteenwoordig ‘n afname van 44 moorde:
# Noord-Korea het drie amptenare in hegtenis geneem wat glo verantwoordelik was vir ‘n blaps verlede week tydens die bekendstelling van ‘n nuwe oorlogskip. Die ongeluk voor Kim Jong-un het die vyfduisend-ton-oorlogskip laat omkantel. Volgens staatsmedia is dit deur ‘n verlies aan balans veroorsaak. Die Noord-Koreaanse diktator het dit ‘n “kriminele daad” genoem en onderneem om die skuldiges te straf. Die hoofingenieur van die skeepswerf, die hoof van die rompkonstruksiewerkswinkel, en die adjunkbestuurder vir administratiewe sake is na ‘n ondersoek in hegtenis geneem.
# Sokker: Real Madrid se afrigter, Carlo Ancelotti, het sy waarskynlike opvolger, Xabi Alonso, alle voorspoed toegewens. Alonso, wat Bayer Leverkusen tans afrig, is gereed om die leisels oor te neem voor die Klub-Wêreldbekertoernooi, hoewel Madrid hom nog nie amptelik aangewys het nie. Ancelotti het gepraat voor die La Liga-wedstryd teen Real Sociedad op die Santiago Bernabeu – sy laaste wedstryd voordat hy die leisels van die Brasiliaanse nasionale span oorneem. Ancelotti het Madrid oor twee tydperke vir altesaam ses seisoene afgerig en 15 trofees gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….