Nuus 11:00
BULLETIN 24 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê volksmoord-bewerings gekoppel aan Suid-Afrika se moordsyfer is onwaar
# SAFTU eis volle openbaarmaking van alle ooreenkomste wat in Washington gesluit is
# En tennis: Aryna Sabalenka voel sterker as ooit voor die Franse Ope
# Die GOOD-party sê die bewerings van volksmoord op plase wat aan die land se moordkoers verbind word, is nie waar nie. Die jongste polisiemisdaadstatistiek toon dat 25-duisend-423 mense in slegs 12 maande vermoor is. Die sekretaris-generaal van die GOOD-party, Brett Herron, sê van die moorde was net 358 op plase. Hy sê slegs 42 van die slagoffers kan geklassifiseer word as deel van die kommersiële landbougemeenskap:
# Saftu eis volle openbaarmaking van alle ooreenkomste wat by ‘n vergadering van Suid-Afrika en Amerika gesluit is. Die vakbond se woordvoerder, Newton Masuku, sê die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi het aangekondig dat die regering die 30-persent swartbemagtigingsvereiste sal ophef sodat Elon Musk se Starlink in die Suid-Afrikaanse mark ‘n vastrapplek kan kry. Hy sê wat president Cyril Ramaphosa en sy afvaardiging voorgelê het, is ontmasker as ‘n geheime operasie om Suid-Afrika aan ‘n globale miljardêr-elite oor te gee:
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield, sê Suid-Afrikaanse uitvoere onder die Afrika Kontinentale Vryehandelsgebied het gestyg tot 820-miljoen-rand sedert voorkeurhandel in Januarie 2024 begin het. Sleuteluitvoere sluit in mynboutoerusting, voedsel en elektronika, met Ghana, Kenia en Egipte as voorkeurbestemmings. Whitfield sê invoere onder dieselfde ooreenkoms het 610-miljoen-rand bereik. Agt-en-veertig tariefskedules is aangeneem, maar hy beklemtoon die noodsaaklikheid om handelsversperrings aan te pak en algehele implementering op die vasteland te versnel.
# Billy Joel se komende toerdatums is gekanselleer, met die legendariese kunstenaar wat behandeling ontvang vir normale drukhidrosefalus, ‘n toestand wat die brein aantas. Volgens ‘n verklaring op sy Instagram-blad is Joel se toestand vererger deur onlangse konsertoptredes, wat gelei het tot probleme met gehoor, sig en balans. Hy ondergaan fisioterapie en is aangeraai om nie op te tree nie. Normale drukhidrosefalus is ‘n seldsame toestand wat voorkom wanneer ‘n persoon te veel vloeistof in die brein het.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, sê sy voel sterker as ooit terwyl sy op die Franse Ope mik na ‘n vierde Grand Slam-titel en ‘n eerste op klei. Die topgekeurde van Belarus het in Madrid haar derde titel op klei gewen en die kwarteindronde van die Italiaanse Ope in Rome gehaal. Sabalenka het verlede jaar in die kwarteindronde in Parys teen die Russiese tiener Mirra Andreeva verloor en sê sy vat vanjaar geen kanse nie. Sy begin môre haar veldtog teen die wêreld-nommer-75, Kamilla Rakhimova van Rusland.
# En ten slotte krieket: ‘n Gewese kaptein van Engeland, Michael Vaughan, glo plaasvervangers in ‘n eerste toetsbeurt moet toegelaat word om te kolf én te boul en nie net om veldwerk te doen nie. Zimbabwe se voorste naatbouler, Richard Ngarava, is Donderdag beseer nadat hy net nege boulbeurte afgestuur het in die eenmalige toets teen Engeland op Trent Bridge. Dit het daartoe gelei dat die gasheer se voorste drie kolwers almal honderdtalle aangeteken het. Vaughan sê as daar ‘n ernstige besering in die eerste beurt is, is die beperking nadelig vir toeskouers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….