Nuus 07:00
BULLETIN 24 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nkosazana Dlamini-Zuma verwerp volksmoord-bewerings as waninligting
# Die Vryheidsfront Plus is versigtig optimisties oor die daling in misdaad maar meen Suid-Afrika is steeds in ‘n ernstige misdaadgreep
# En tennis: Novak Djokovic is in eindstryd van die Genève Ope met sy 100ste titel in sig
# Die voormalige voorsitter van die Afrika-Unie, Nkosazana Dlamini-Zuma, het bewerings van volksmoord in Suid-Afrika as doelbewuste waninligting verwerp. Dit volg na ‘n omstrede vergadering tussen president Cyril Ramaphosa en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, wat misleidende materiaal aangebied het wat geweld teen wit boere voorstel. Dlamini-Zuma het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika beklemtoon hoewel misdaad alle burgers raak, daar geen bewyse is wat bewerings van volksmoord staaf nie:
# Die Vryheidsfront Plus sê die jongste misdaadstatistieke toon wel ‘n effense verbetering, maar Suid-Afrika is steeds in die greep van ‘n ernstige misdaadkrisis. Die party is bly oor die daling van 12,4-persent in moorde en die afname van 15-persent in motorkapings tussen Januarie en Maart. Wouter Wessels van die VF Plus het vordering onder die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se leierskap verwelkom, maar kritiseer die rassediskriminasie teenoor landelike moordslagoffers in die jongste verslag:
# Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur bied Sondag die Afrikadag 2025-vieringe op Vryheidspark in Pretoria aan, rondom die tema ‘Bou die Afrika wat ons soek deur solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid.‘ Dit is die elfde jaar waarin Afrika-maand herdenk word en kyk terug op 31 jaar van demokrasie in Suid-Afrika. Die dag vier ook die stigting van die Organisasie van Afrika-Eenheid in 1963. Die geleentheid skop af met ‘n parade-karnaval by die Kgosi Mampuru-gevangenis.
# ‘n Regter het ‘n tydelike verbod uitgereik wat die Trump-administrasie se plan blokkeer om Harvard Universiteit te keer om buitelandse studente in te skryf. Die uitspraak is die jongste in ‘n dispuut tussen die Withuis en een van Amerika se mees gesogte instellings. Die bevel keer ‘n poging deur die Departement van Binnelandse Veiligheid om Harvard se toegang tot die Studente- en Uitruilbesoekersprogram te herroep, ‘n regeringsdatabasis wat buitelandse studente bestuur. Daar is byna seweduisend internasionale studente by Harvard, meer as 27-persent van sy ingeskrewe studente vanjaar.
# Tennis: Novak Djokovic is op die punt om sy 100ste toervlaktitel in te palm na hy Cameron Norrie gister met 6-4, 6-7 6-1 in die halfeindstryd van die Genève Ope geklop het. ‘n Oorwinning in vandag se eindstryd teen die sesde gekeurde Pool, Hubert Hurkacz, is die perfekte voorbereiding vir die Franse Ope wat Sondag begin. Dit sal die Serwiër se tweede eindstryd vanjaar wees na die Miami Ope waar hy teen die Tsjeggiese tiener, Jakub Mensik verloor het. Djokovic wat Donderdag 38 geword het, is die wêreld nommer ses en gaan probeer om ‘n vierde Roland Garros-titel te verower.
# En ten slotte: Die Tshwane Metropolisiedepartement het ‘n verkeerswaarskuwing uitgereik voor vandag se CAF Kampioeneliga-wedstryd tussen Mamelodi Sundowns en Pyramids FC op Loftus Versfeld. Verskeie strate rondom die stadion sal van vanoggend agt-uur tot vanaand agt-uur gesluit wees, insluitend Park, Farenden en Walton Jameson. Swaar verkeer word verwag en motoriste word aangemoedig om alternatiewe roetes soos Francis Baard en Justice Mahomed te gebruik. Verkeers- en polisie-beamptes sal aan diens wees om verkeersopeenhoping te bestuur en algemene veiligheid te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….