Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa keur ‘n ooreenkoms goed wat gemik is op die versekering van bestendige elektrisiteitvoorsiening
# Korrektiewe Dienste bevestig Oscar Pistorius is nou ‘n paroolganger
# En, rugby: Wandisile Simelane sluit by die Stormers aan van die Bulle af
# President Cyril Ramaphosa het ‘n ooreenkoms van verstandhouding tussen die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, en die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, goedgekeur om die voortslepende elektrisiteitskrisis by te lê. Dit sit hulle onderskeie verantwoordelikhede uiteen, met die fokus op die beëindiging van beurtkrag en die instel van die Energie-aksieplan. Ramokgopa sal toesig hou oor Eskom se werksaamhede, opwekkingsvermoë verbeter en finansieringsmodelle ontwikkel, terwyl Gordhan die aandeelhouer-verteenwoordiger bly en Eskom se herstrukturering lei. Vincent Magwenya van die Presidensie sê die ooreenkoms sal in werking bly tot die einde van die huidige administrasie.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het bevestig die veroordeelde moordenaar, Oscar Pistorius, is nou tuis nadat hy vanoggend amptelik op parool vrygelaat is. Die 37-jarige voormalige Paralimpiese kampioen wat in 2013 skuldig bevind is aan die moord op sy meisie, Riva Steenkamp, is in November parool toegestaan. Hy is vrygelaat in die sorg van sy oom, Arnold Pistorius, wat in Waterkloof, Pretoria, woon. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê Pistorius het reeds agt jaar van sy vonnis van 13-jaar en 8-maande uitgedien en sal op parool tot sy vonnis verstryk:
# Die N3-tolkonsessie sê piek-verkeer sal na verwagting die naweek op die N3-tolroete tussen KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Gauteng voortduur met meer vakansiegangers wat terugkeer huis toe. Besige verkeer is dié week ondervind, met op sy ergste tussen een-duisend en een-duisend-900 voertuie per uur wat noordwaarts na Gauteng beweeg het. Die bedryfsbestuurder van die N3-tolkonsessie, Thania Dhoogra, sê padgebruikers moet veral swaar noordwaartse verkeersvolumes verwag, wat moontlike opeenhoping en vertragings op Sondag tussen nege die oggend en ses-uur die middag insluit:
# Die Departement van Gesondheid in Limpopo sê hy is op ‘n hoë vlak van gereedheid na cholera-uitbrekings in buurlande soos Zimbabwe, Mosambiek en Zambië. Die provinsie het nog nie ‘n geval aangeteken nie. Met al hoe meer migrantewerkers wat na die land terugkeer vir werk, styg die risiko van ingevoerde gevalle. Die departement se woordvoerder, Neil Shikwambana, sê Limpopo grens aan Mosambiek in die ooste en Zimbabwe in die noorde, en is ook die gasheer vir die Beitbrug-grenspos, wat een van die land se besigste grensposte is.
# Rugby: Die Bulle se dinamiese agterspeler, Wandisile Simelane, het by die Stormers aangesluit en sal volgende week kennis maak met sy nuwe spanmaats. Die voormalige Junior Springbok-ster verskuif na Kaapstad in ‘n ruilooreenkoms met Cornel Smit, wat by die Pretoria-span aansluit. Die veelsydige Simelane kan op senter, vleuel en agterspeler inskuif en sal die Stormers se agterlyn selfs nog meer slaankrag gee. Hy sal dadelik beskikbaar wees om gekies te word. Die hoofafrigter van die Stormers, John Dobson sê Simelane is ‘n welkome byvoeging wat perfek sal inskakel by sy span se spelpatroon.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-886-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-38-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….