Nuus 18:00
BULLETIN 23 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Suid-Afrikaners leef steeds in vrees ondanks positiewe nuus in die jongste misdaadstatistieke
# Action Society sê ‘n algemene polisie-model kan nie plaaslike misdaad aanpak nie
# En sokker: UEFA vra verskoning oor te min wennersmedaljes na die Europaliga-eindstryd
# Die DA sê die jongste misdaadstatistieke toon vordering, maar te veel burgers lewe steeds in vrees. Meer as ses-duisend moorde, byna elf-duisend verkragtings en meer as 43-duisend ernstige aanrandings is in die tydperk tussen Januarie en Maart vanjaar aangemeld. Die DA-lid, Ian Cameron, sê hierdie syfers dui op ‘n stelsel wat in ‘n krisis verkeer. Hy bepleit dringende strukturele hervormings:
Action Society sê intussen openbare vertroue in die polisie stort in duie omdat geweldsmisdaad buite beheer bly. Die organisasie het na aanleiding van die jongste misdaadstatistieke gesê die polisie het gemeenskappe in die steek gelaat. Juanita du Preez van Action Society sê dis tyd vir grondwetlike hervorming sodat provinsies en munisipaliteite toegerus word om wetstoepassing plaaslik te beheer:
# Die Veldtog vir Vrye Uitdrukking veroordeel die minister van Sport, Gayton McKenzie, se onlangse opdrag om buitelandse burgers in die Departement van Sport, Kuns en Kultuur te ontslaan. Direkteur Nicole Fritz noem die opmerking ongrondwetlik en skandelik en waarsku dat McKenzie nie die wettige gesag het om sulke optrede af te dwing nie. Sy sê die verklaring skend die land se Grondwet, arbeidswette en globale verdragsverbintenisse, en dring aan dat grondwetlike waardes nagekom word:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, dreig Apple met ‘n tarief van 25-persent as die iPhones wat die tegnologie-maatskappy in die Verenigde State verkoop, nie plaaslik vervaardig word nie. Hy sê in ‘n plasing op Truth Social hy het Apple meegedeel dat hy verwag dat hul iPhones wat in Amerika verkoop word nie in Indië of elders vervaardig sal word nie. Trump se omvangryke tariewe op belangrike Amerikaanse handelsvennote het wêreldmarkte ontspoor en internasionale handel omvergewerp.
# Sokker: Die Europese beheerliggaam UEFA het verskoning gevra omdat die wennersmedaljes opgeraak het nadat Tottenham Hotspur vir Manchester United 1-0 verslaan het in Woensdag se Europaliga-eindstryd in Bilbao, Spanje. Meer van Tottenham se spelers as wat verwag is het opgedaag vir die medalje-seremonie – insluitend beseerde spelers wat nie gespeel het nie. Kaptein Son Heung-min en twee spanmaats het nie medaljes ontvang nie. Son het toe die trofee gelig sonder ‘n medalje om sy nek. UEFA sê hulle het die medaljes kort daarna in Tottenham se kleedkamer afgelewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-843-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-351-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….