Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 23 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Twee-en-vyftig mediese vrywilligers het kragte saamgesnoer met die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg en Operasie Glimlag Suid-Afrika om 40 lewensveranderende operasies uit te voer. Gesplete lippe en verhemeltes is onder meer herstel. Die projek wat deur Life Healthcare ondersteun word, het ten doel om die landwye agterstand met operasies op kinders te verklein. Die program bied siftings, operasies en nasorg aan en beklemtoon die behoefte aan voortgesette behandeling en gelyke toegang. Die hospitaal se uitvoerende hoof, Nkuli Boikhutso, loof die poging as ‘n huldeblyk aan Mandela se nalatenskap.
# Die adjunkdirekteur van Openbare Vervolging van die Nasionale Vervolgingsgesag se Nasionale Eenheid vir Seksuele Oortredings en Gemeenskapsake, Mkhuseli Jokani, het na die Universiteit Fort Hare teruggekeer om te gradueer met ‘n meestersgraad in Menseregte. Hy het in 1997 ʼn B. Proc-graad aan die universiteit verwerf. Die vier-jaar-graad is oorspronklik ontwerp vir studente wat prokureurs wil word. Jokani sê sy terugkeer na Fort Hare was om ʼn belofte na te kom, met sy wortels te herenig en die instelling te eer wat hom gevorm het.
# Die Tshwane-universiteit vir Tegnologie se kampusradiostasie vier Afrika-dag met ʼn spesiale oorgrens-koppeluitsending saam met Harare se voorste geselsradioprogram. Afrika-dag word jaarliks op 25 Mei gevier om die stigting van die Organisasie van Afrika-eenheid in 1963 te herdenk. Dit het later die Afrika-unie geword. Tshwane FM se stasiebestuurder, Tebogo Jacko Magubane, sê hierdie uitsending wil radio gebruik om gedeelde erfenis te weerspieël, kulturele rykdom te vier en Afrika-stemme op ʼn kontinentale skaal te laat hoor.
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het lede tydens ‘n geleentheid in Tshwane vir lang diens vereer en hul toegewyde pogings gevier om die land te beskerm. Medaljes is oorhandig aan lede wat tusssen 10- en 30-jaar getroue diens gelewer het. Brigadier Johana Mokwena is tydens die seremonie vir haar troue diens geloof. Sy het aan die SABC gesê sy wil jong geregsdienaars motiveer:
# En ten slotte: ʼn Oudstudent van die Universiteit van die Wes-Kaap, Anthony Timoteus, sê dis spesiaal om in jong atlete te belê deur sy tegnieke en sy lewe met hulle te deel. Hy neem môre deel aan die UWK se Fast and Flat-wedloop oor 10-kilometer. Timoteus, wat tans ʼn middelafstand-afrigter vir seuns van 14 tot 19 jaar by die Hoërskool Stellenbosch is, sê hy kom van ʼn plek af waar niemand iets goed van hom verwag het nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….