Nuus 13:00
BULLETIN 23 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Polisie sê die moordkoers daal in al die provinsies behalwe die Noord-Kaap
# ActionSA sê bendegeweld verwoes Suid-Afrikaanse gemeenskappe
# En Ford herroep 2024 Rangers in Suider-Afrika
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê moordsyfers het in agt van die nege provinsies afgeneem. Ses-duisend-467 mense is tussen Januarie en Maart dood – ‘n afname van 3,1-persent in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Mchunu het tydens die vrystelling van die jongste misdaadstatistieke in Pretoria gesê die Noord-Kaap is die enigste provinsie wat ‘n toename in moorde aangeteken het. Hy sê die provinsie maak slegs twee-persent van die nasionale syfer uit:
ActionSA rig intussen weer ‘n waarskuwing oor die toename in bendegeweld reg oor Suid-Afrika waar meedoënlose bendes woonbuurte in oorlogsones verander. Woordvoerder Matthew George sê bendegeweld kom in die Wes-Kaap veral voor op die Kaapse Vlakte, in Gauteng in Eldoradopark en Westbury, en in die Oos-Kaap in Nelson Mandelabaai. Hy sê dit dwing onskuldige gesinne om voortdurend in vrees te leef:
# Die Ford Motor-motormaatskappy in Suider-Afrika het Ford Rangers herroep wat verlede jaar vir verkoop beskikbaar gestel is. Dit volg nadat ses voertuigvervaardigers verlede week motors onttrek het. Die Nasionale Verbruikerskommissie se hoof van klagtes en ondersoeke, Prudence Moilwa, sê dit word toegeskryf aan die verkeerde laer beheer-arm wat aangebring is:
# Sokker: Real Madrid se 39-jarige Kroatiese middelveldspeler, Luka Modric, het aangekondig dat hy die Spaanse reus ná die Klub-Wêreldbekertoernooi gaan verlaat. Hy het byna 600 wedstryde vir Real gespeel sedert hy in 2012 van Tottenham af aangesluit het, en het onder meer ses Kampioeneliga- en vier La Liga-titels gewen. Modric het die Ballon d’Or in 2018 gewen vir sy vertonings vir Madrid en sy land, terwyl Kroasië as naaswenner geëindig het in die Wêreldbekertoernooi in Rusland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-en-82-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-61-sent per vat.
# En ten slotte: Prins William het in samewerking met United for Wildlife ‘n nuwe baanbreker dokumentêre reeks getiteld Guardians bekendgestel. Die dokumentêr oor ses episodes bied ‘n seldsame blik op die gevaarlike werk van wildbewaarders wat wêreldwyd aan die voorpunt van bewaring staan. Die reeks volg stories van bewaarders wat werk in die Kruger-wildtuin in Suid-Afrika, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, die Indiese Himalajas, die See van Cortez in Mexiko, Sri Lanka en die inheemse gebied Caru in Brasilië. Ongeveer een-duisend-400 bewaarders het die afgelope dekade gesterf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….