Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die gewese Nieu-Seelandse kaptein, Sam Cane, en die Ierse legendes Peter O’Mahony en Conor Murray is die eerste spelers wat ingesluit is in die Barbarians-span wat volgende maand in Kaapstad teen Suid-Afrika speel. Die drie, wat altesaam in 352 toetse uitgedraf het, verteenwoordig die span die eerste keer. Hoofafrigter Robbie Deans sê sy groep sal bestaan uit internasionale hoëprofiel-sterre en ander uitsonderlike presteerders van Europese klubs, Super Rugby en die Japanse liga.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het 41 spelers aangewys in ‘n voorlopige groep vir volgende maand se internasionale vriendskaplike wedstryde teen Tanzanië en ‘n tans onbekende tweede teenstander. Broos se span sluit talle nuwe gesigte in, soos Orlando Pirates se sensasie, Mbekezeli Mbokazi, sy spanmaat Simphiwe Selepe, en Kaizer Chiefs se jong speler, Mduduzi Shabalala. Dit bied noodsaaklike voorbereiding vir Bafana Bafana se Wêreldbeker-kwalifiseerders in September en Oktober. Die voorlopige groep sal in die komende dae tot 23 uitgedun word.
# Tennis: Die wêreld se voorste twee spelers, Jannik Sinner van Italië en die Spanjaard Carlos Alcaraz, sal die jongste top-gekeurde spelers in ‘n Grand Slam-toernooi in byna twee dekades wees wanneer die Franse Ope Sondag in Parys begin. Die Switserse meester Roger Federer was 25 en Alcaraz se landgenoot, Rafael Nadal, 20 toe hulle in 2006 die eerste- en tweede-gekeurde spelers in die Amerikaanse Ope was. Sinner is 23 en Alcaraz 22. Hulle keuring beteken hulle sal mekaar nie voor die eindstryd op Roland Garros teëkom nie.
Alcaraz begin die verdediging van sy Franse Ope-titel teen Kei Nishikori van Japan en Sinner speel teen die plaaslike speler Arthur Rinderknech. Novak Djokovic van Serwië begin sy strewe vir ‘n 25ste Grand Slam-titel teen die Amerikaner Mackenzie McDonald. Verlede jaar se naaswenner, Alexander Zverev van Duitsland, pak die Amerikaanse tiener Learner Tien. Daar lê ‘n moeilike pad voor vir Iga Swiatek om ‘n vierde agtereenvolgende titel te wen. Die Pool is geloot saam met verlede jaar se naaswenner, Jasmine Paolini van Italië, die voormalige kampioen, Jelena Ostapenko van Letland, en 2022 se Wimbledon-kampioen, Elena Rybakina van Kazakstan.
# En motorsport: George Russell glo Mercedes moet beter werkverrigting uit die sy motors haal op die naweek se Grand Prix in Monaco. Die Brit het verlede naweek sewende gekom op die Emilia-Romagna Grand Prix in Imola – die eerste keer dié seisoen dat hy nie onder die voorste vyf was nie. Russell, wat tans vierde is in die bestuurderskampioenskap, sê die nuwe regulasie van twee kuipe-besoeke in Monaco is ‘n geleentheid vir Mercedes:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….