Nuus 12:00
BULLETIN 23 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die besnoeiing van Amerikaanse navorsingsfondse dompel Suid-Afrikaanse universiteite in ‘n krisis
# Gauteng kry meer as 320-miljard-rand op ‘n beleggingskonferensie
# En krieket: Rajasthan Royals se tiener-sensasie gaan Indië op jeugvlak verteenwoordig
# Die Amerikaanse regering het navorsingsfondse besnoei wat Suid-Afrikaanse universiteite in ‘n krisis gedompel het. Dit raak 44 programme ter waarde van 2,5-miljard-rand. Die Wits-gesondheidskonsortium sê hy het 1,8-miljard-rand van die Nasionale Tesourie nodig om alle Amerikaanse toelaes oor die volgende drie tot vier jaar te vervang. Die Universiteit van Kaapstad sê sonder ingryping sal hy binne die volgende 12 maande meer as 437-miljoen-rand se navorsingsfondse verloor. Die Noordwes-universiteit moet vyf projekte van 5,4-miljoen-rand staak. Die Departement van Hoër Onderwys sê die saak is na die Presidensie verwys.
# Die Gautengse regering het meer as 320-miljard-rand verkry op die Gautengse beleggingskonferensie. Die geld sal werkskepping en -ontwikkeling reg oor die provinsie ondersteun. Premier Panyaza Lesufi het onthul dat die meeste beleggings van BRICS-lande afkomstig is, en beloof om die geld doeltreffend te gebruik. Hy sê Gauteng sal binnekort soos ‘n bouterrein lyk. Lesufi het beleggers bedank vir die ondersteuning van die provinsie se visie vir groei en hervorming.
# Limpopo se Gesondheidsdepartement ondersoek ‘n klagte van wangedrag teen ‘n mediese dokter wat na bewering probeer het om ‘n swanger pasiënt te verkrag in die George Masebe-hospitaal. Die voorval het in die sonarkamer plaasgevind tydens ‘n ondersoek. Die departement se woordvoerder, Neil Shikwambana, sê die dokter sal ook dissiplinêr verhoor word:
# Krieket: Rajasthan Royals se superster-tienerkolwer, Vaibhav Suryavanshi, sal Indië op jeugvlak verteenwoordig nadat hy in die onder-19-groep ingesluit is vir ‘n multi-formaattoer na Engeland. Die 14-jarige het verlede maand die jongste kolwer geword om ‘n honderdtal in mans-T20’s aan te teken toe hy die mylpaal van slegs 35 balle bereik het met 11 sesse en sewe viere. Suryavanshi het reeds 252 lopies in sewe wedstryde vir Rajasthan aangeteken. Die toer na Engeland sluit vyf eendagwedstryde en twee meerdagwedstryde in.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-804-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-45-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse Polisiediens het lede tydens ‘n geleentheid in Tshwane vir lang diens vereer en hul toegewyde pogings gevier om die land te beskerm. Medaljes is oorhandig aan lede wat tusssen 10- en 30-jaar getroue diens gelewer het. Brigadier Johana Mokwena is tydens die seremonie vir haar troue diens geloof. Sy het aan die SABC gesê sy wil jong geregsdienaars motiveer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….