Nuus 09:00
BULLETIN 23 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê Trump het die waarheid oor Suid-Afrika blootgelê
# Twee verdagtes wat gesoek is vir ten minste ses transitorooftogte word doodgeskiet
# En die beskuldigde in die moord op Israelse ambassade-personeellede word aangekla
# Die Vryheidsfront Plus sê president Cyril Ramaphosa se ontmoeting met Amerika se president Donald Trump het Suid-Afrika ontbloot as ‘n land wat geteister word deur geweld, ʼn sukkelende ekonomie, infrastruktuur wat ineenstort en ʼn algehele gebrek aan groei. Trump het Ramaphosa Woensdag tydens ʼn vergadering in die Withuis beskuldig van volksmoord teen wittes, insluitend bewerings van massamoorde en grondbesettings. Die VF Plus sê die wêreld weet nou Suid-Afrika is ʼn land waar Afrikaners en ander minderhede geboelie, onderdruk en gemarginaliseer word deur rasgebaseerde wetgewing.
# Die minister in die Presidensie verantwoordelik vir Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, sal vandag ‘n afvaardiging na die Beijing Automotive Industry Corporation in Gqeberha lei. Woordvoerder Litha Mpondwana sê maniere sal ondersoek word om monitering- en evalueringstelsels te verbeter, wat die staat se vermoë sal versterk om betekenisvolle en verantwoordbare bestuur onder die Sewende Administrasie te lewer:
# Twee transito-rooftog verdagtes is gister in ‘n skietgeveg met die polisie by Wasbank naby Ladysmith in KwaZulu-Natal dood. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê die twee verdagtes was na bewering tussen 2022 en Maart vanjaar betrokke by minstens ses transito-rooftogte in KwaDukuza, Verulam, Phoenix, Greytown, Nyomi en Langlaagte. Hy sê hulle het inligting opgevolg oor waar die verdagtes hulle bevind het:
# Die verdagte wat Woensdagaand twee jong Israelse ambassadepersoneellede buite die Capital Jewish-museum in Washington doodgeskiet het, is van moord met voorbedagte rade aangekla. Elias Rodriguez is ook aangekla van die moord op buitelandse amptenare en verwante vuurwapenaanklagtes. Minstens een van die aanklagte, die gebruik van ‘n vuurwapen om moord te pleeg, hou die moontlikheid van die doodstraf in. Die waarnemende Amerikaanse staatsaanklaer vir Washington, Jeanine Pirro, sê hulle sal nog aanklagte byvoeg indien bewyse dit regverdig.
# Krieket: Ollie Pope het ‘n onoorwonne 169 vir Engeland aangeteken in hulle eerste beurt op die eerste dag van hulle eenmalige toets teen Zimbabwe by Trent Bridge. Engeland het teen uitskeityd 498 vir drie op die telbord gehad. Ben Duckett en Zak Crawley het ook met die kolf uitgeblink en onderskeidelik 140 en 124 aangeteken. Dit is Zimbabwe se eerste toets teen Engeland in 22 jaar. Ondanks sy onlangse swak vertoning as kolwer, sê Crawley hy is nie bekommerd oor sy plek in die span nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-717-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-314-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….