Nuus 08:00
BULLETIN 23 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorsitter van Skoor sê die staat sal ineenstort as belasting nooit verhoog word nie
# Die Nasionale Loterykommissie gaan teen die uitspraak oor die loterylisensie appelleer
# En Donald Trump staak internasionale inskrywings vir Harvard
# Die parlementêre staande komitee oor Finansies se voorsitter, Joe Maswanganyi, waarsku teen die bevordering van populistiese idees soos teenstand teen belastingbeleid. Dit volg nadat sommige politieke partye die verhoogde brandstofheffing verwerp het wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, die week in sy gewysigde begroting aangekondig het. Die verhoging in die brandstofheffing moet opmaak vir hierdie boekjaar se begrotingstekort nadat die BTW-verhoging geskrap is. Maswanganyi sê belasting stel die regering in staat om noodsaaklike openbare goedere te befonds:
# Die raad van die Nasionale Loterykommissie het besluit om teen die uitspraak oor die aanstelling van ‘n nuwe operateur van die Nasionale Lotery te appelleer. Die Hooggeregshof in Pretoria het die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, gelas om die suksesvolle aansoeker vir die vierde nasionale loterylisensie teen nie later nie as 28 Mei te bepaal. Dit volg na Tau se besluit om ‘n versoek vir voorstelle vir ‘n tydelike lisensie van 12 maande uit te reik, onwettig verklaar is. Die voorsitter van die NLK, Barney Pityana, sê ‘n nuwe operateur kan nie die bedrywighede binne vyf maande oorneem nie.
# Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het die onlangse nuwe vlaag taxigeweld in dele van die provinsie veroordeel. Die afgelope weke het gewelddadige voorvalle plaasgevind waar taxibestuurders en hul assistente vermoor en taxidienste ontwrig is. Die departement se woordvoerder, Lesiba Mpya, sê die gewelddadige optrede ondermyn die regering se pogings om ‘n veiliger omgewing vir openbare vervoer in die provinsie te skep:
# Die Amerikaanse Departement van Binnelandse Sake het die Harvard-universiteit se Studente- en Uitruil-besoekersprogram teruggetrek wat beteken die instelling mag nie buitelandse studente inskryf nie. Internasionale studente wat tans daar studeer, moet oorgeplaas word of hul regstatus verloor. Die Trump-administrasie eis reeds maande lank dat Harvard sy aanstelling-, toelating- en onderrigpraktyke verander om anti-Semitisme op die kampus uit te roei. Die minister van Binnelandse Sake, Kristi Noem, het aan Fox News gesê die universiteit se studentebevolking bestaan uit sowat 27-persent buitelandse studente:
# Sokker: Bafana Bafana-afrigter Hugo Broos het 41 spelers aangewys as voorlopige groep vir volgende maand se internasionale vriendskaplike wedstryde teen Tanzanië en ʼn tans onbekende tweede teenstander. Broos se span het talle nuwe gesigte, soos die Orlando Pirates-sensasie Mbekezeli Mbokazi, sy spanmaat Simphiwe Selepe, en die jong Kaizer Chiefs-speler Mduduzi Shabalala. Dit bied noodsaaklike voorbereiding vir Bafana Bafana se komende kwalifiserende wedstryde in September en Oktober vir die FIFA-wêreldbeker. Die voorlopige groep sal in die komende dae tot 23 uitgedun word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-176-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-299-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….