Nuus 07:00
BULLETIN 23 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile bevorder skakeling met Suid-Afrikaanse sakeondernemings in Frankryk
# Die EFF verwerp die Wysigingswet op die Ekonomiese Regulering van Vervoer
# En rugby: Cane, O’Mahony en Murray is in die Barbarians-groep ingesluit teen die Springbokke
# Die adjunkpresident Paul Mashatile het die belangrikheid van verskerpte sake-tot-sake-inisiatiewe tussen Suid-Afrika en Frankryk beklemtoon. Mashatile het met die Franse president, Emmanuel Macron, by die Élysée-paleis vergader na ‘n suksesvolle Suid-Afrika-Frankryk-beleggingskonferensie. Mashatile het bevestig dat die hoëvlak-gesprekke gefokus het op die bevordering van bilaterale handel, beleggingsgeleenthede en multilaterale samewerking, en het verwys na ‘n onlangse afname in handel. Macron het dieper bande verwelkom en bywoning van die G20-beraad in Suid-Afrika bevestig.
# Die EFF sê hy verwerp die Wysigingswet op die Ekonomiese Regulering van Vervoer in sy huidige vorm. Die wet wil ekonomiese groei en die welstand van Suid-Afrikaners bevorder deur ‘n doeltreffende en produktiewe vervoersektor. Dit sluit in ʼn Vervoer-ekonomie Reguleerder wat verantwoordelik is vir die regulering van pryse in die vervoersektor, wat klagtes ondersoek, en nakoming in dié sektor monitor en afdwing. Die EFF-woordvoerder Sharon Letlape sê die wet is ʼn Trojaanse perd vir privatisering:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het vertroue in sy saak teen die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, se destydse persoonlike assistent, Moroadi Cholota, in die 255-miljoen-rand asbes-korrupsieverhoor. Die NVG se nasionale woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê voldoende bewyse is voorgelê om Cholota se spesiale pleidooi om haar vervolging in die verhoor-binne-‘n-verhoor te betwis, van die hand te wys, waarin jurisdiksionele bekommernisse aangespreek is:
# Die DA sê die wanfunksionele strafregstelsel laat gemeenskappe op die Kaapse Vlakte in Kaapstad in die steek, met ‘n skokkend lae skuldigbevindingskoers van vyf-persent vir onwettige vuurwapensake. Volgens die party belemmer mislukkings met ondersoeke en vervolgings pogings om bendebedrywighede te beveg. Hulle beplan om die Nasionale Vervolgingsgesag na die Parlement te roep. Glynnis Breytenbach van die DA waarsku sonder dringende hervormings en sterker samewerking tussen die polisie en aanklaers sal die geweld kwesbare gemeenskappe bly teister.
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram waarsku hy is in ʼn wedloop teen tyd om wydverspreide hongersnood in Gaza te voorkom. Die VN-spanne het meer as 90 vragmotors met humanitêre hulp gereed om na die Gazastrook te neem, dae nadat Israel ʼn blokkade van elf weke opgehef het. Die program se adjunkhoof, Carl Skau, het aan Al Jazeera gesê genoeg kos om die hele bevolking twee maande lank te voed, is gereed om met vasgestelde roetes na Gaza geneem te word:
# Rugby: Die gewese Nieu-Seelandse kaptein, Sam Cane, en Ierland se legendes Peter O’Mahony en Conor Murray, is die eerste spelers wat ingesluit is by die Barbarians-span wat volgende maand in Kaapstad teen Suid-Afrika speel. Die drie wat in 352 internasionale wedstryde uitgedraf het, verteenwoordig die Barbarians vir die eerste keer. Die Barbarians se hoofafrigter, Robbie Deans, sê sy groep sal bestaan uit internasionale hoëprofiel-sterre en ander uitsonderlike presteerders van Europese klubs, Super Rugby en die Japannese liga.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-280-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-298-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….