Nuus 07:00
BULLETIN 22 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen sê vir Trump Suid-Afrika het ‘n landelike veiligheidsprobleem
# Die president van Cosatu sê Suid-Afrika se probleem is nie ras nie, maar misdaad
# En Binnelandse Sake stel Operasie Nuwe Besem bekend teen onwettige immigrasie
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê Suid-Afrika het ‘n probleem met landelike veiligheid. Hy sê kleinskaalse boere waarvan baie swart is, word lukraak geraak. Steenhuisen was gister by die Withuis deel van die ontmoeting tussen president Cyril Ramaphosa en die Amerikaanse president Donald Trump. In reaksie op die video van die EFF-leier Julius Malema wat “Kill the Boer” dreunsing, het Steenhuisen gesê die DA se rol in die regering is om Suid-Afrika teen gewelddadige, ongrondwetlike groepe te beskerm:
Die sakeman Johann Rupert het tydens dieselfde ontmoeting gesê Suid-Afrika het tegnologiese hulp nodig om sterftes in die land te bekamp. Rupert het beklemtoon dat misdaad reg oor die land voorkom en nie net wit boere raak nie:
En die Cosatu-president Zingiswa Losi het by Trump gepleit om die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika in September vir nog vyf jaar te hernu. Losi het gesê daar is ʼn groot misdaadprobleem in die land wat internasionale ingryping nodig het:
# Eskom het tenders aangevra vir ‘n proefprojek vir hernubare groen waterstof by sy Navorsing-, Toets- en Ontwikkelingseenheid in Johannesburg. Die projek ondersteun Suid-Afrika se 2050 netto-nul-uitstralingsdoelwit en is daarop gemik om Eskom se ontkolingstrategie te versterk. Die uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê die projek sal help om waterstof se volle waardeketting te verken terwyl interne vaardighede gebou word. Die fasiliteit sal Eskom se hernubare navorsing uitbrei en vorm deel van ‘n breër verskuiwing na skoner tegnologieë, insluitend gas, waterstof en hernubare energie.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het Operation New Broom in Kaapstad van stapel gestuur om onwettige immigrasie met biometriese verifikasie te teiken. Die eerste klopjag was in Distrik Ses waar 25 mense aangekeer is op grond wat vir grondherstel geoormerk is. Die operasie, aangevuur deur gevorderde tegnologie, het ten doel om bedrog uit te skakel en grondwetlikheid te handhaaf. Schreiber het ongedokumenteerde immigrante aangespoor om die grond vrywillig te verlaat en beklemtoon die nasionale druk vir wettige nakoming en digitale hervorming in die departement.
# Rugby: Die Stormers sal die Ierse reus Leinster op 26 September in Kaapstad ontvang vir die begin van die volgende seisoen van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Bulle sal in die eerste naweek in Pretoria teen Ospreys speel en die Haaie en die Leeus sal hul veldtogte begin teen onderskeidelik Glasgow in Skotland en Cardiff in Wallis. Die formaat van die kompetisie sal dieselfde wees, met die 16 spanne wat elk 18 ligawedstryde speel voor die uitspeelwedstryde. Die eindstryd sal op 20 Junie wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-921-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-319-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….