Nuus 13:00
BULLETIN 21 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# EFF veroordeel Johann Rupert se insluiting in Suid-Afrika se afvaardiging om Trump te ontmoet
# ActionSA sê derde begroting moet landsburgers beskerm en werkloosheid en korrupsie teenwerk
# En Zapiro kry ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria
# Die EFF is ontsteld oor die sakeman Johann Rupert se insluiting in president Cyril Ramaphosa se afvaardiging na Amerika. Die afvaardiging onmoet die Amerikaanse president, Donald Trump, vandag in die Withuis. Die regering het dit bestempel as ‘n geleentheid om verhoudinge te herstel. Die EFF sê Rupert is ‘n groot begunstigde van ongelyke grond- en ekonomiese verhoudings en het selfs al gedreig om sy beleggings uit die land te onttrek. Die party sê sy insluiting in ‘n diplomatieke afvaardiging is ‘n klap in die gesig van demokrasie.
Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het intussen herhaal dat grondvergoeding billik en onpartydig moet wees, in ooreenstemming met Artikel 25 van die Grondwet. Hy het voor vandag se ontmoeting met Trump die noodsaaklikheid beklemtoon om grondbesit-wanbalanse verantwoordelik aan te pak, voedselsekerheid te verseker en eiendomsregte te handhaaf. Steenhuisen het die regering se verbintenis tot billike vergoeding in grondhervormingsplanne bevestig:
# ActionSA sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se hersiene begroting moet die grondslag lê vir volhoubare ekonomiese groei. Die minister keer vandag terug met ‘n derde begrotingspoging ná die eerste een in Februarie en ʼn tweede een in Maart. ActionSA se woordvoerder, Matthew George, sê hierdie begroting moet sukkelende landsburgers teen hoër belasting beskerm, seker maak die Inkomstediens is behoorlik befonds, en die korrupsie in staatsdepartemente en staatsinstellings teenwerk:
# Sokker: Manchester United het ‘n fiksheidshupstoot gekry aan die vooraand van vanaand se Europaliga-eindstryd toe Joshua Zirkzee, Diogo Dalot en Leny Yoro almal gister weer begin oefen het. Ruben Amorim se span berei voor om Tottenham vanaand in Bilbao, Spanje, te pak. Zirkzee is vroeër vir die res van die seisoen uitgesluit, maar die Nederlandse doelskieter kan beskikbaar wees. Die Portugese agterspeler Dalot was afwesig weens ‘n kuitprobleem, terwyl die Franse verdediger Yoro verlede Vrydag se nederlaag van 1-0 teen Chelsea weens ‘n voetprobleem misgeloop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-331-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-308-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van Pretoria het ‘n eredoktorsgraad in Opvoedkunde toegeken aan Suid-Afrika se mees gevierde en veelbekroonde redaksionele spotprenttekenaar, Jonathan Shapiro, beter bekend as Zapiro. Die universiteit sê sy spotprente hou die afgelope vier dekades ‘n boeiende, insiggewende spieël op van gebeure in Suid-Afrika. Shapiro sê dis vir hom uiters aangenaam om te sien dat sy spotprente in skole en universiteite as onderrighulpmiddels gebruik word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….