Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met motorsport: Ferrari se spanhoof, Fred Vasseur, sê hulle moet hul kwalifiserende uitslae verbeter voor die naweek se Monaco Grand Prix. Charles Leclerc se beste kwalifiserende uitslag tot dusver die seisoen was derde op die wegspringrooster en Lewis Hamilton vyfde. Albei jaers is in die tweede kwalifiserings-ronde uitgeskakel in verlede naweek se Emilia Romagna Grand Prix. Vasseur sê dis duidelik dat hulle die laaste drie of vier Grand Prix ‘n baie vinniger pas in die wedrenne gehandhaaf het as in die kwalifiserende rondes, wat frustrerend is.
# Rugby: Matt Sherratt het ingestem om weer as Wallis se tussentydse hoofafrigter op te tree vir die toer na Japan in Julie. Sy eerste taak is om ‘n groep van 33 spelers vir die twee toetse aan te wys. Ses spelers is toets-nuwelinge. Ospreys se haker, Dewi Lake, is as kaptein gekies terwyl die gereelde kaptein, Jac Morgan, saam met die Britse en Ierse Leeus in Australië toer. Sherratt het vroeër die jaar die leisels oorgeneem vir Wallis se laaste drie Sesnasies-wedstryde nadat Warren Gatland bedank het.
Nog rugby: Immanuel Feyi-Waboso sal sy eerste verskyning sedert November in ‘n Engelse span maak met sy ontwrigte skouer wat vinnig herstel. Feyi-Waboso is ingesluit in Engeland se groep van 33-spelers vir ‘n tweedaagse oefenkamp voor hul somerwedstryde. Die 22-jarige vleuel van Exeter het nog nie vanjaar gespeel nie na ‘n operasie om van ‘n besering te herstel wat hy tydens klubrugby in Desember opgedoen het. Hy kan moontlik op 31 Mei in Exeter se laaste Premierliga-wedstryd van die seisoen teen Sale speel.
# Sokker: Manchester City het Bournemouth 3-1 verslaan om ‘n stap nader te beweeg aan volgende seisoen se Kampioeneliga. Omar Marmoush, Bernardo Silva en Nico Gonzalez se doele het Pep Guardiola se span laat opskuif tot die derde plek op die Premierliga-punteleer. Dan Jebbison het Bournemouth se enigste doel aangeteken, maar die span kan nie meer kwalifiseer nie. City het 68 punte met een wedstryd oor, twee meer as Newcastle United, Chelsea en Aston Villa in die stryd om onder die topvyf te eindig en vir die Kampioeneliga te kwalifiseer.
# En tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een, Novak Djokovic, is nie haastig om ʼn nuwe afrigter te kry voor die Franse Ope nie. Sy en nog ‘n gewese nommer-een, Andy Murray, se paaie het onlangs geskei nadat hulle ses maande saamgewerk het. Die 24-malige Grand Slam-kampioen is ʼn promotorskeuse vir die Geneefse Ope, waar hy probeer om sy 100ste toervlak-titel te beklink. Hy speel vandag teen die Hongaar, Marton Fucsovics. Djokovic sê hy kon niks meer uit sy vennootskap met Murray kry nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….