Nuus 11:00
BULLETIN 5 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oscar Pistorius is vrygelaat en is by die huis
# Begrotingsbesnoeiings raak die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se planne om nuwe skole te bou
# En, krieket: Alle oë is op Nuweland gerig vir die IKR se besluit oor die ondersoek van die kolfblad
# Oscar Pistorius is vanoggend op parool vrygelaat en is by die huis. Reeva Steenkamp se ma June sê egter geen hoeveelheid tronkstraf wat Oscar Pistorius uitdien, kan ooit haar vermoorde dogter terugbring nie. Sy het in ’n verklaring haar aanvaarding herhaal, van die veroordeelde moordenaar se vrylating ná agt jaar agter tralies. Oscar Pistorius het Reeva op Valentynsdag in 2013 noodlottig gewond toe hy haar deur ‘n toe toiletdeur geskiet het. Pistorius is uiteindelik tot 13 jaar en vyf maande agter tralies gevonnis vir die moord. Steenkamp sê die paroolraad se voorwaardes stuur ‘n duidelike boodskap uit dat geslagsgeweld baie ernstig opgeneem word.
# Die vaktydskrif Clinical Kidney Journal het die toenemende voorkoms van chroniese niersiektes in Afrika uitgelig. Die styging is veral erg in Suid-Afrika, aangevuur deur faktore soos hoë bloeddruk, diabetes en MIV. Om die styging in gevalle van nierversaking te hanteer, word dialise-sentrums opgerig in townships en dorpe regoor die land. Shoyab Wadee van die Suid-Afrikaanse Nefrologievereniging het aan SABC News gesê daar is ‘n dwingende behoefte aan verbeterde infrastruktuur en standaarde in hierdie geriewe:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê die Nasionale Tesourie se begrotingsbesnoeiings gaan sy planne belemmer om 21 nuwe skole te bou, skole te vervang en 289 bykomende klaskamers by bestaande skole te voeg. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het in November in die mediumtermynbegroting aangekondig dat besteding vir die huidige boekjaar met 21-miljard-rand verminder is. Die departement se woordvoerder, Bronagh Hammond, sê die nasionale regering veroorsaak dat die departement nou ‘n tekort van ongeveer 537-miljoen-rand het:
# ‘n Leerder in die Amerikaanse staat Iowa het een persoon by ‘n skool doodgeskiet en vyf gewond op die eerste dag ná die vakansie. Die polisie sê die oorledene was in graad 6, waar leerders ongeveer 12 jaar oud is. Hulle sê hulle het met hul aankoms op die toneel die aanvaller gevind wat sy eie lewe geneem het. Hy het ‘n haelgeweer en ‘n klein kaliber handwapen by hom gehad en is as die 17-jarige Dylan Butler geïdentifiseer. Volgens die polisie het die verdagte ‘n aantal inskrywings op sosiale-media-platforms gemaak voor en tydens die skietery.
# Krieket: Krieket Suid-Afrika wag vir die Internasionale Krieketraad se verslag oor die oppervlak van die kolfblad op Nuweland waar ‘n toets in slegs 107 boulbeurte afgehandel is. Die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië was die kortste wedstryd in die geskiedenis van die spel met slegs 642 balle wat geboul is – 14 minder as die vorige rekord van 656 balle in die toets tussen Suid-Afrika en Australië in Melbourne tydens die toer van 1931/32. Nuweland was ook in 1993 in die nuus met die eendag-debakel tydens ‘n Internasionale Reeks weens sy kolfblad wat die bal uitermatig laat bons en draai het. Dit het daartoe gelei dat die Wes-Indiese Eilande Pakistan in slegs 19 boulbeurte vir 43 uitgehaal het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-827-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-43-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie77-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….