Nuus 06:00
BULLETIN 21 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is optimisties oor sy ontmoeting met Trump
# Minister Steenhuisen sê sy ontmoeting met die Amerikaanse handelsverteenwoordiger-ambassadeur was opbouend
# En Brittanje skort sy handelsgesprek met Israel op
# President Cyril Ramaphosa sê hy sien uit na ‘n baie goeie en positiewe ontmoeting vandag met die Amerikaanse president Donald Trump. Hy het gister die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington besoek, waar hy ‘n strategiese inligtingsessie deur sy ministers bygewoon het. Die regering het die langverwagte gesprekke as ‘n geleentheid bestempel om verhoudings te herstel. Ramaphosa sê ‘n verbeterde en wedersyds voordelige handelsverhouding met Amerika is noodsaaklik:
Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, en die minister van Landbou, John Steenhuisen het intussen met die Amerikaanse handelsverteenwoordiger-ambassadeur Jamieson Lee Greer, in Washington vergader. Amerika is Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot ná China. Steenhuisen sê die vergadering het gefokus op die versekering van oop en wedersyds voordelige toegang vir landbouprodukte wat werk skep en ekonomiese groei dryf:
# Burgerlike samelewingsgroepe, insluitend Blind SA, SECTION27 en die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie, sal vandag buite die Konstitusionele Hof betoog met die aanvang van die verhore oor die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg en die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars. Die betoging is gemik op billike toegang tot inligting en tantième vir kunstenaars. President Cyril Ramaphosa het die wetsontwerpe na die hof verwys na jare van vertragings en hersienings. Blind SA en SECTION27 voer aan dat dringende aanvaarding van kritieke belang is vir opvoedkundige regte en die regte van gestremdes in Suid-Afrika.
# Die regering het die gemeenskap aangemoedig om vreedsaam en binne die wet te betoog. ‘n Gewelddadige behuisingsbetoging Maandag in Diepkloof, Soweto, het tot die dood van twee mense gelei. Inwoners het in die strate betoog oor vertragings in grondontwikkeling. Hulle het paaie blokkeer en vragmotors geplunder voordat hulle met die polisie gebots het. Die woordvoerder van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel, William Baloyi, het die geweld veroordeel en gesê die regering respekteer die reg om te betoog, maar waarsku dat dit nie tot kriminele dade mag lei nie:
# Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Lammy, het in ‘n toespraak aan die Britse Parlement gesê talle burgerlikes in Gaza word bedreig weens hongersnood. Hy het bygevoeg die Israelse weermag se blokkade van elf weke wat verhoed dat humanitêre hulp Gaza bereik, is “onverdedigbaar en wreed”. Lammy sê die Verenigde Koninkryk skort onderhandelings met die Israelse regering rakende ‘n nuwe vryhandelsooreenkoms op, en die Israelse ambassadeur in die Verenigde Koninkryk, Tzipi Hotovely, is na die ministerie van Buitelandse Sake ingeroep.
# Rugby: Matt Sherratt het ingestem om weer as Wallis se tussentydse hoofafrigter op te tree vir die toer na Japan in Julie. Sherratt se eerste taak was om ‘n groep van 33 spelers, vir die twee toetse teen Japan aan te wys. Ses spelers is toets-nuwelinge. Die Ospreys-haker Dewi Lake is as Wallis-kaptein gekies. Gereelde Wallis-kaptein, Jac Morgan, is op toer met die Britse en Ierse Leeus na Australië. Cardiff-afrigter Sherratt het aanvanklik die leisels oorgeneem vir Wallis se laaste drie Sesnasies-wedstryde vroeër vanjaar nadat Warren Gatland bedank het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-883-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-293-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….