Nuus 17:00
BULLETIN 20 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FW de Klerk Stigting ondersteun RNE-vergadering met Trump
# SA wynbedryf vra gesprekke met VSA oor uitvoertariewe
# En, Zelensky beskuldig Putin dat hy ‘leë koppe’ na onderhandelings oor wapenstilstand stuur
# Die FW de Klerk Stigting verwelkom die vergadering tussen president Cyril Ramaphosa en die Amerikaanse president Donald Trump. Suid-Afrika is steeds Amerika se grootste Afrika-handelsvennoot, met meer as 600 Amerikaanse ondernemings wat plaaslik handel dryf. Die stigting het ook Ramaphosa se internasionale diplomasie geprys en leiers van die regering van nasionale eenheid aangespoor om waninligting te verwerp en te fokus op die bou van ‘n verenigde, gematigde koalisie vir Suid-Afrika se toekoms.
# Die Suid-Afrikaanse wynbedryf vra gesprekke met die Verenigde State om tariewe wat wynuitvoere raak, te spreek. Maryna Calow van Wines of South Africa sê die VSA is ‘n belangrike mark, met uitvoere ter waarde van byna 660-miljoen-rand. Sy het die dringendheid van die saak op SABC News beklemtoon en AGOA se rol in handel beklemtoon, met die VSA wat Suid-Afrika se vierde grootste wynuitvoerbestemming is:
# Die Gautengse Onderwysdepartement veroordeel die aanranding van leerders by die Soshanguve South Secondary School deur gemeenskapslede wat na bewering kwaad was omdat hulle laat was. Die voorval het gister plaasgevind toe die groep na bewering skolierpatrollies oorrompel, die skoolterrein betree en die leerders aangerand het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê laatkom is wel ‘n bron van kommer, maar geweld en intimidasie teen kinders en leerkragte is heeltemal onaanvaarbaar:
# Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky het Rusland beskuldig dat hy vredesgesprekke vertraag in ‘n poging om sy drie-jaar-lange inval voort te sit, selfs al oefen die Amerikaanse president Donald Trump druk uit vir ‘n onmiddellike wapenstilstand. Trump het Maandag telefonies met Zelensky en die Russiese leier, Vladimir Putin, gepraat. Intussen het Russiese en Oekraïense amptenare Vrydag in Istanbul vergader vir hul eerste regstreekse gesprekke oor die oorlog in langer as drie-jaar. Hulle kon egter nie daarin slaag om ‘n wapenstilstand-ooreenkoms te bereik nie en Zelensky het Putin beskuldig dat hy “leë koppe” na die onderhandelingstafel gestuur het.
# Sokker: Die afrigter van Bafana Bafana, Hugo Broos, het Suid-Afrika se onder-20-afrigter, Raymond Mdaka, geprys vir sy taktiese vaardigheid en vermoë om die span te motiveer tydens hulle Afrikabeker-veldtog. Amajita het Marokko Sondag met 1-0 in Kaïro, Egipte, verslaan om hul eerste AFCON-titel te verower. Broos het die span aangemoedig om gefokus te bly en slim loopbaankeuses te maak, en gewaarsku dit is moeiliker om sukses te handhaaf as om dit te bereik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-825-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-237-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….