Nuus 16:00
BULLETIN 20 Mei 4nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Safa prys die Onder-20’s se merkwaardige prestasie by AFCON
# Suid-Afrika se oseaan-geïnspireerde blomme-meesterstuk wen goud by die Chelsea-blommeskou
# En, oorstromings tref dele van Kaapstad na stortreën vanoggend
# Ons begin met goeie nuus: Die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, sê Amajita se 1-0 oorwinning oor Marokko in Kaïro, Egipte, om hul eerste Afrikabeker-titel vir onder-20-spelers te verower, was ‘n ongelooflike prestasie. Hy het afrigter Raymond Mdaka geprys vir sy langtermynwerk met die span en sê stabiele afrigting het ‘n groot rol in hul sukses gespeel. Jordaan het aan die media gesê dit wys dat Suid-Afrikaanse sokker in alle ouderdomme in ‘n sterk posisie is:
Verdere goeie nuus is Suid-Afrika het weer goud losgeslaan op die gesogte Chelsea-blommeskou in Londen. Die bekroonde uitstalling, met die bekende tuinboukundige Leon Kluge as leier van die span, het die invloed van die Indiese en Atlantiese oseane op Suid-Afrika se flora ten toon gestel. Die land se ryk kusbiodiversiteit het as inspirasie gedien vir die uitstalling wat 25-duisend stingels plaaslik gekweekte blomme en fynbos bevat. Dit is Suid-Afrika se 39ste medalje oor vier dekades by die wêreldberoemde blommeskou.
# Die Rampbestuursentrum in Kaapstad het berigte ontvang van gelokaliseerde oorstromings vanoggend, hoofsaaklik in strate waar stormwaterstelsels nie die hoeveelheid water kan hanteer nie. Woordvoerder, Sonica Lategan, sê reaksiespanne is besig om die insidente te hanteer. Sy sê daar die impak tot dusver was gering en die reën sal na verwagting teen vanaand afneem:
# Die Europese Unie het formeel ‘n nuwe stel sanksies teen Rusland aanvaar wat op sy “skaduvloot” olietenkskepe gemik is, en het Moskou met meer strafmaatreëls gedreig omdat hulle nie ingestem het tot ‘n wapenstilstand in Oekraïne nie. Die hoof van buitelandse beleid van die Europese Unie, Kaja Kallas, het op X geskryf meer sanksies word teen Rusland geformuleer en hoe langer Rusland oorlog voer, hoe strenger sal hulle reaksie wees. Die jongste sanksies teen die Kremlin is al weke lank in wording en is reeds verlede week deur EU-lidlande goedgekeur.
# ‘n Britse atleet sê hy het ’n nuwe wêreldrekord opgestel nadat hy regdeur Australië gehardloop het. Hy het die ekwivalent van 90 marathons in 35 dae voltooi. William Goodge het die drie-duisend-860-kilometer op 15 April in Wes-Australië begin, en deur woestyne, oor plase en in woude gedraf voordat hy gister by die beroemde Bondi-strand in Sydney klaargemaak het. Met ’n gemiddelde van sowat twee-en-’n-half marathons per dag het die Engels-gebore uithou-atleet die vorige rekord van 39 dae, wat in 2023 opgestel is, verpletter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-985-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-236-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….