Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Amajita is vandag terug in die land as die kampioene van die Onder-20 Afrika-beker nadat hulle Marokko met 1–nul in die eindstryd in Kaïro, Egipte, geklop het. Dit is Suid-Afrika se eerste titel in die toernooi, 28 jaar nadat hulle in 1997 die laaste keer in die eindstryd gespeel het. Die agttienjarige Gomolemo Kekana het die wendoel aangeteken om die oorwinning te beklink. Die span het die individuele toekennings oorheers. Tylon Smith is aangewys as Beste Speler, terwyl Fletcher Lowe as beide Beste Doelwagter en Speler van die Wedstryd in die eindstryd aangewys is.
# Krieket: Die Mumbai Indians het kontrakte met die Engelse paar Jonny Bairstow en Richard Gleeson en ook Charith Asalanka van Sri Lanka gesluit. Die drie is in die plek van Will Jacks, Ryan Rickelton en Corbin Bosch, wat almal na hul tuislande terugkeer ná die laaste ligawedstryd in Mumbai. Indien Mumbai kwalifiseer, sa die plaasvervangers van die uitspeelronde af beskikbaar wees. Die Mumbai Indians moet môre teen die Delhi Capitals wen om die laaste beskikbare uitspeelplek te bekom.
# Rugby: ’n Sesnasies-wedstryd sal vir die eerste keer ooit op ’n Donderdag gespeel word, wanneer Frankryk, die verdedigende kampioen, Ierland op 5 Februarie volgende jaar tuis aandurf. Die wedstryd is geskuif om nie met die openingsgeleentheid die volgende dag van die Winterspele in Milaan, Italië, saam te val nie. Die toernooi sal slegs een rusnaweek hê, in plaas van die gebruiklike twee. Frankryk moet nog sy tuisstadions bevestig nadat daar geen aanvaarbare voorstel ontvang is om by Stade de France in Parys te bly nie.
Nog rugbynuus: ’n Gekombineerde Australiese en Nieu-Seelandse span sal vanjaar vir die eerste keer sedert 1989 teen die Britse en Ierse Leeus te staan kom. Die span word afgerig deur Les Kiss, wat volgende jaar by Joe Schmidt oorneem as afrigter van die Wallabies. Die wedstryd sal op 12 Julie in Adelaide, Australië, gespeel word. Die Leeus se toer deur Australië, wat drie toetse teen die Wallabies en ses ander wedstryde insluit, begin op 28 Junie en eindig op 2 Augustus.
# En laastens gholfnuus: Vir die eerste keer sedert 1999, het die voormalige Meesterskampioen, Sergio Garcia, nie vir volgende maand se Amerikaanse Ope gekwalifiseer nie. Die Spanjaard het by Bent Tree-buiteklub in Dallas ‘n hou aan baansyfer op sy laaste putjie tydens die 36-putjie kwalifiserende rondte afgestaan en op ses onder baansyfer geëindig, en het nie gekwalifiseer nie. Ryderbeker-kaptein Edoardo Molinari van Italië was een van agt spelers wat Maandag by Walton Heath in Engeland deurgedring het, en nog drie het hul plekke in die Japanese kwalifiserende byeenkoms verseker. Die laaste tien kwalifiseringsplekke sal op 2 Junie beslis word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….