Nuus 11:00
BULLETIN 20 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet vertrou dat hy sy skuldverpligtinge sal nakom
# Suikerrietkwekers verwelkom die vrystellings wat die plaaslike mark sal ondersteun
# En die VN verwelkom die hervatting van hulp aan Gaza
# Transnet is vol vertroue dat hy die vereiste finansiering sal kan verkry om sy bedryfsvereistes en skuldverpligtinge vir die res van die jaar na te kom. Die graderingsagentskap Moody’s waarsku die staatsonderneming se geld sal binne drie maande op wees, tensy die regering ingryp met ‘n reddingsboei. Die regering het in Desember 2023 ‘n gewaarborgde fasiliteit van 47-miljard-rand aan Transnet verskaf om aan die gang te bly. Die geld is egter opgebruik. Transnet sê hy sal sy finansiële verpligtings in ooreenstemming met sy finansieringsplan kan nakom.
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging verwelkom die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging se voorgestelde konsepregulasies wat kan help om die lewensbestaan van meer as een-miljoen mense te beskerm. Die nuwe regulasies sal kleinhandelaars en voedselprodusente toelaat om regstreeks met suikerrietkwekers te onderhandel en voorkeur gee aan aankope van Suid-Afrikaanse suiker in plaas van invoere. Die organisasie se ondervoorsitter, Andrew Russell, sê die regeringsplan is ook daarop gemik om nuwe projekte soos die vervaardiging van biobrandstowwe te ondersteun, wat plaaslike suikerrietkwekers ‘n beter toekoms sal bied:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om te verseker dat munisipale befondsing nie besnoei word in môre se nasionale begroting nie. Die minister sal probeer om die begroting vir die derde keer ter tafel te lê nadat die twee vorige pogings weens politieke en regsuitdagings gestaak is. Hill-Lewis sê meer as 107- miljoen-rand is van toelaebefondsing aan Kaapstad gesny as deel van landwye besnoeiings in 2023/2024:
# Die Verenigde Nasies se hoof van Humanitêre Sake, Tom Fletcher, verwelkom Israelse owerhede se besluit om na 11 weke weer beperkte hulp aan Gaza toe te laat. Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu, sê die aflewering van kos sal slegs voortgaan tot die weermag en privaat maatskappye sentrums opgerig het om hulp ingevolge ‘n Amerikaans-gesteunde plan te versprei, wat die VN verwerp het. Die VN-woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê nege van hul vragmotors het reeds goedkeuring om deur die suidelike Kerem Shalom-kruising te gaan:
# Rugby: ’n Sesnasies-wedstryd sal vir die eerste keer ooit op ’n Donderdag gespeel word, wanneer Frankryk, die verdedigende kampioen, Ierland op 5 Februarie volgende jaar tuis aandurf. Die wedstryd is geskuif om nie met die openingsgeleentheid die volgende dag van die Winterspele in Milaan, Italië, saam te val nie. Die toernooi sal slegs een rusnaweek hê, in plaas van die gebruiklike twee. Frankryk moet nog sy tuisstadions bevestig nadat daar geen aanvaarbare voorstel ontvang is om by Stade de France in Parys te bly nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-647-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-212-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….