Nuus 09:00
BULLETIN 20 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sal nie ‘n begroting sonder die Maatskaplike Verligting van Noodtoelaag steun nie
# Die DA kritiseer die polisie en NVG omdat hulle die Cwecwe-ondersoek laat vaar
# En Trump sê Rusland en Oekraïne sal onmiddellik met onderhandelinge begin
# Die GOOD-party sê hulle sal nie ‘n begroting ondersteun wat nie die Maatskaplike Verligtingshulptoelaag behou nie, en voeg by dat daar geen kompromie kan wees oor die staat se plig om die kwesbares te ondersteun nie. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gaan môre die derde weergawe van die nasionale begroting in soveel maande ter tafel lê. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die begrotingsproses was chaoties en uitsluitend, wat die ontoereikendheid van die huidige begrotingsraamwerk bloot lê:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die bekendstelling van die Hersiening van die 1998-Witskrif oor Plaaslike Regering as ‘n belangrike stap in die rigting van meer verantwoordbare en doeltreffende plaaslike regerings geloof. Die hersiening is gemik om die oorkoepelende probleme wat plaaslike munisipaliteite in die gesig staar op te los. Dit sluit in beperkte befondsing en ‘n gebrek aan professionele vaardighede en deursigtigheid. Die voorsitter, Zweli Mkhize, sê die hersiening is belangrik vir ‘n nuwe trajek van groei, ontwikkeling en doeltreffendheid vir munisipaliteite.
# Die DA sê dis onaanvaarbaar dat die polisie en Nasionale Vervolgingsgesag toelaat dat openbare druk die ondersoek na die beweerde verkragting van Cwecwe in die Oos-Kaap beïnvloed. Die NVG het besluit om niemand in verband met die beweerde verkragting van die sewejarige meisie te vervolg nie en sê daar was te min bewyse om ‘n suksesvolle vervolging te steun. Die DA sê dis onverskoonbaar dat die ondersoek nie sonder die vereiste vrees, begunstiging of vooroordeel uitgevoer is nie.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê Rusland en Oekraïne sal dadelik met vredessamesprekings begin om die oorlog te beëindig. Hy het gister ‘n twee-uurlange telefoonoproep met sy Russiese eweknie Vladimir Putin gevoer en die gesprek as uitstekend beskryf. Putin het gesê die telefoongesprek was betekenisvol en direk, maar hy voeg by sy land se oorlogsdoelwitte is onveranderd. Trump het gesê dit is noodsaaklik dat Amerika hom nie van die samesprekings en die soeke na vrede distansieer nie:
# Sokker: Die Ballon d’Or-toekenningsgeleentheid sal vanjaar op 22 September plaasvind, en die eerste keer sal daar ewe veel toekennings vir vroue as vir mans wees. Toekennings vir die beste vroulike doelwagter, beste jong vroulike speler en die top doelskieter onder vroue is bygevoeg vir die seremonie in Parys. Daar sal ook ’n bykomende prys wees – die Socrates-toekenning vir optrede wat solidariteit bevorder, kan deur ‘n man of ‘n vrou gewen word. Die benoemings sal vroeg in Augustus aangekondig word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-652-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-213-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….