Nuus 08:00
BULLETIN 20 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê president Ramaphosa is gereed om verhoudings met die VSA te laat herleef
# ActionSA doen ‘n beroep op ‘n lewenslange verbod om die terugkeer van misdadige buitelanders te voorkom
# En Brittanje, Frankryk en Kanada dreig Israel met sanksies oor sy hernieude aanvalle in Gaza
# Die Presidensie sê president Cyril Ramaphosa sien uit na ‘n suksesvolle vergadering môre met sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, wat daarop gemik is om die verhouding tussen die twee lande te herstel. Die president het gister in Washington DC aangekom. Hy word vergesel van vier ministers, Ronald Lamola, Khumbudzo Ntshavheni, John Steenhuisen, Parks Tau, en die spesiale gesant na Amerika, Mcebisi Jonas. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika sal onder meer bespreek word:
# ActionSA het die omstrede Nigeriese tele-evangelis, Timothy Omotoso, se verbanning uit Suid-Afrika verwelkom. Die pastoor wat verlede maand vrygespreek is op aanklagte insluitend verkragting en mensehandel, is ʼn ongewenste persoon verklaar. Hy mag vir vyf jaar nie na die land terugkeer nie. ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê die vyfjaar-verbanning moet tot lewenslank verleng word om seker te maak ʼn buitelandse burger wat weens misdaad gedeporteer word, word nooit weer in Suid-Afrika toegelaat nie:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig sewe tieners wat beskuldig word dat hulle ʼn ander tiener aangerand het, het gister vir ʼn voorlopige ondersoek in die Johannesburg-landdroshof verskyn. Die meisies van 13 en 14 is gearresteer ná ʼn video waarop hulle ʼn 14-jarige leerder by die Bedfordview High School aanrand, soos ʼn veldbrand versprei het. Die NVG-woordvoerder in Gauteng, Phindi Mjonondwane, sê die leerders van Bedfordview High School, Kensington High School, Queens High School en Phoenix College staar elk ʼn aanrandingsklag in die gesig:
# Die leiers van Brittanje, Frankryk en Kanada dreig met daadwerklike stappe, insluitend geteikende sanksies, as Israel nie ophou met sy hernieude aanvalle in Gaza nie. Meer as 100 mense is die naweek in die nuwe grondoffensief dood. Die Isralse premier Benjamin Netanyahu het onderneem om beheer oor die hele Gaza te neem en om Hamas uit te wis. Brittanje, Frankryk en Kanada het Israel se uitbreiding van sy oorlog as oordrewe gekritiseer en toestande in Gaza as ondraaglik beskryf.
# Krieket: Die Lucknow Super Giants se hoop om die Indiese Premierliga-uitspeelronde te haal, is verpletter nadat hulle met ses paaltjies teen Sunrisers Hyderabad verloor het. Mitchell Marsh het 65 bygedra tot Lucknow se telling van 205 vir sewe in hul 20 boulbeurte. In antwoord daarop het Abhishek Sharma 59 van 20 balle gemoker en Sunrisers het geseëvier met tien balle oor. Mumbai Indians en Delhi Capitals meet Woensdag kragte en die wenner sal in die uitspeelronde aansluit by Gujarat Titans, Punjab Kings en Royal Challengers Bengaluru.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-992-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-213-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….