Nuus 07:00
BULLETIN 20 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa se ontmoeting met Trump is gerig op die verbetering van verhoudings
# Die Staatsinligtingstegnologie-agentskap word ondersoek vir korrupsie
# En Israel laat die lewering van voedsel in Gaza toe
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê president Cyril Ramaphosa se ontmoeting Woensdag met die Amerikaanse president Donald Trump sal ‘n positiewe stap wees om verhoudinge tussen die twee lande te versterk. Minstens 49 wit Suid-Afrikaners het onlangs na Amerika vertrek om te ontvlug van wat Trump ʼn volksmoord in Suid-Afrika noem. Die departement se woordvoerder, Clayson Monyela, het aan die SABC gesê die regering glo politieke uitdagings moet deur dialoog opgelos word:
# Die DA sê 155 kinders onder die ouderdom van vyf het sedert Januarie vanjaar in openbare gesondheids-inrigtings gesterf as gevolg van wanvoeding. Volgens die party is die meeste gevalle in Limpopo, Gauteng en KwaZulu-Natal aangeteken. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het die statistiek bekend gemaak in sy antwoord op ’n geskrewe parlementêre vraag. Michele Clarke van die DA sê die krisis word vererger deur stygende werkloosheid en lewenskoste:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid gaan bewerings van wanadministrasie en korrupsie by die Staatsinligtingstegnologie-agentskap ondersoek. Die ondersoek sal fokus op die verkryging van gebruiksklaar-programmatuur vir batebestuur en geïntegreerde logistieke ondersteuningsdienste. Die ondersoekeenheid sê hy sal bepaal of die verkrygingsproses volgens Nasionale Tesourie se riglyne was, en of daar onreëlmatighede, gebrek aan deursigtigheid of verkwistende uitgawes was. Hy sal ook kyk na onwettige of onbehoorlike gedrag deur Sita-werknemers, verskaffers of ander instellings wat by die kontrak betrokke was.
# Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Mlungisi Mabaso, het gister se dodelike betoging in Diepkloof veroordeel. Inwoners van die Diepkloof-hostel het die strate ingevaar oor behuisingskwessies, wat die beweerde privaat besit van dele van die hostel insluit. Twee mense is dood waarvan een ʼn vullisverwyderaar was. Mabaso sê hulle ondersoek die omstandighede wat daartoe gelei het dat dele van die hostel aan privaat individue behoort:
# Hulpvoorrade sal na verwagting in Gaza aankom ná ‘n verbod van byna drie maande. Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, het ingestem om dit toe te laat nadat bondgenote gedreig het om steun te onttrek omdat hulle nie beelde van hongersnood in die gebied kan aanvaar nie. Internasionale voedselsekerheidskundiges het gewaarsku oor hongersnood, met ‘n verslag gesteun deur die Verenigde Nasies wat waarsku een uit elke vyf mense in Gaza word blootgestel aan kostekorte. Die nuusagentskap Associated Press berig 20 hulpvragmotors wat meestal voedsel vervoer, sal die gebied binnegaan.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, sê hy is tevrede met sy spelpeil ondanks sy nederlaag teen die nommer twee, die Spanjaard Carlos Alcaraz, in Sondag se eindstryd van die Italiaanse Ope. Die plaaslike held het uitstekend gespeel na sy terugkeer ná ’n opkikker-skorsing van drie maande, maar Alcaraz was net te sterk. Sinner sê sy fisieke toestand gee hom vertroue vir die Franse Ope wat Sondag in Parys begin. Alcaraz is die verdedigende kampioen en oorheers op kleibane, terwyl die Italianer se drie Grand Slam-titels almal op hardebane ingepalm is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-534-dollar-40-sent. Die prys van goud is drie-duisend-226-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….