Nuus 09:00
BULLETIN 5 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die MK Party raak meer gewild in Suid-Afrika
# Outa eis die bedanking van Minister Blade Nzimande en die NSFAS-voorsitter
# En, Veerpyltjies: Die tienersensasie Luke Littler word vir die Premierliga-veerpyltjiereeks gekies
# Die politieke ontleder Ebrahim Harvey sê die uMkhonto weSizwe Party raak al gewilder in Suid-Afrika nadat oudpresident Jacob Zuma aangekondig het dat hy nie vanjaar vir die ANC gaan stem nie, maar vir die MK Party. Ebrahim sê Zuma se beroep op ANC-lede en sy volgelinge om vir die MK party te stem, sal waarskynlik groot verwarring onder die regerende party en MK-lede en volgelinge veroorsaak. Dit geld veral in KwaZulu-Natal waar die oudpresident baie ondersteuners het:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, Outa, doen ‘n beroep dat die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande, en die voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khosa, bedank. Die organisasie het stem-opnames van twee vergaderings tussen Khosa en ‘n verteenwoordiger van ‘n diensverskaffer, Thulani Ntumba, onthul oor hoe diensverskaffers na bewering miljoene rande se gunsloon aan Nzimande en Khosa betaal het asook minstens een-miljoen-rand aan die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Rudie Heyneke van Outa sê dit is gedoen in ruil vir tenders en beskerming vir diensverskaffers:
# Die Openbare Beskermer het die Nasionale Vergadering se speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula vrygespreek van onbehoorlike gedrag na ‘n klagte van die voormalige direkteur-generaal van Openbare Ondernemings. Kgathatso Tlhakudi het beweer minister Pravin Gordhan was betrokke by ʼn onbehoorlike transaksie wat verband gehou het met die verkoop van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Tlhakudi het beweer Mapisa-Nqakula het nie betyds gereageer op ʼn beskermde onthulling wat hy in 2022 gemaak het nie. Die Openbare Beskermer het bevind daar was nie onbehoorlike gedrag of wanadministrasie aan Mapisa-Nqakula se kant nie en het laat blyk sy het die aangeleentheid na die portefeuljekomitee vir Openbare Ondernemings verwys.
# Israel se minister van Verdediging, Yoav Gallant, het voorstelle bekend gemaak vir die toekomstige beheer in Gaza wanneer die oorlog tussen Israel en Hamas verby is. Hy sê Hamas gaan nie langer Gaza regeer nie en Israel sal die oorkoepelende sekuriteitsbeheer behou. Intussen word Amerika se minister van buitelandse sake, Antony Blinken, vandeesweek weer in die streek verwag om met Israelse leiers en Palestynse amtenare in die Wesoewer te beraadslaag. Sy besoek volg te midde van verhoogde spanning ná die sluipmoord Dinsdag op die top- Hamas-leier, Saleh al-Arouri. Israel word van sy dood beskuldig, maar het nog nie betrokkenheid daarby erken of ontken nie.
# Veerpyltjies: Luke Littler is gekies vir die Premierliga-veerpyltjie-kompetisie ná sy sprokiesverhaal-vordering tot by die eindstryd van die PDC-wêreldkampioenskap. Slegs agt spelers neem aan die reeks oor 16 weke deel en die 16-jarige wat Woensdag in die eindstryd met 7-4 deur Luke Humphries geklop is, is ingesluit. Humphries, die wêreld-nommer-een, is ook betrokke en sal sy debuut in die kompetisie maak. Die toernooi begin op 1 Februarie in Cardiff. Littler, wat 17 jaar oud sal wees wanneer die toernooi begin, is die jongste speler ooit om aan die Premierliga deel te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-732-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-44-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….